Local news

Premier beloof bystand, maar party vra vir langtermyn oplossings

Nog geen bystand kragopwekker by suiweringsaanleg 

Ingryping op provinsiale vlak by die waterkrisis waaronder Parys al vir maande gebuk gaan, is ook gevra met ‘n skrywe wat deur die Vryheidsfront Plus aan die Vrystaatse premier, Sisi  Ntombela, gerig is.

In die skrywe is aangedring op dringende ingryping in die dorp se voortslepende waterkrisis  sedert daar met protesoptrede Sondag 15 Januarie, in die Tumahole-woonbuurt begin is. Protesoptrede duur sedertdien voort en word die situasie deurentyd deur die polisie gemonitor.

Daar was ook groot polisie-teenwoordigheid vandag, Woensdag 18 Januarie in Parys, Schonkenville en Tumahole ,met vier van die betogers wat Maandag op klagte van openbare geweld gearresteer is,, en vandag voor die hof verskyn het. Hulle bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning vir ‘n formele borgaansoek. Nog 11 mense wat gearresteer is deur die polisie  tydens die protesoptredes moet nog voor die hof verskyn.

Betogers het sedert Sondag bande, munisipale watertenks, die munisipale kantore in Tumahole, en die Ngwathe uitvoerende burgemeester, rdl. VIctoria de Beer, se ma se huis aan die brand gesteek.

Die krisis het alreeds daartoe gelei dat klinieke en die skole in die groter Parys sedert Maandag gesluit is, en steeds Donderdag 18 Januarie gesluit sal wees.

In antwoord op die VF Plus se skrywe het die premier bevestig dat die nasionale departement van water en sanitasie reeds genader is vir hulp met die dorp se watarkrisis.

Die party se Tammy Breedt, VF Plus-LP en kiesafdelingshoof vir die Ngwathe munisipaliteit, sê dat die premier onderneem het om te versoek dat watertenkwaens in Parys, Schonkenville en Tumahole beskikbaar gestel word, en die weermag genader word vir hulp.

Sy sê die betogings is die gevolg van die voortslepende water- en diensleweringskrisis in die Ngwathe munisipaliteit, en het die protesoptrede reeds ontwrigting in baie huishoudings en vir sakelui veroorsaak.

Breedt sê kragonderbrekings weens beurtkrag word vererger omdat vervalle infrastruktuur dikwels met die gereelde aan- en afskakel van elektrisiteit onklaar raak. “Dit lei tot watertekorte omdat reservoirs nie voldoende volgepomp kan word nie.

Breedt sê in die verklaring dat ‘n gebrek aan behoorlike bestuur en die nodige politieke wil om infrastruktuur-opgradering en -instandhouding te prioritiseer, direk vir die krisis verantwoordelik is.

“‘n Humanitêre krisis het nou ontstaan weens die onderbrekings wat growwe menseregteskenkings veroorsaak”

Die party vra dat langtermyn oplossings daargestel, ontwikkel en uitgevoer word.

Gazette het met die skryf van hierdie berig nog geen terugvoer ontvang oor ‘n vergadering wat vandag gehou sou word tussen die Ngwathe munisipale bestuur en verteenwoordigers van departement waterwese wat Dinsdag die watersuiweringsaanleg in Parys besoek het om die situasie te evalueer.

Intussen het die Ngwathe munisipale bestuurder, Nonhlanhla Baleni, bevestig dat gerugte wat versprei word dat ‘n bystand kragopwekker binne 7 dae by die watersuiweringsaanleg sal wees, onwaar is.

 

Related Articles

Back to top button