Local news

Verbruikers trek weer aan die kortste end met dié kragonderbrekings

Skrywe aan Eskom gerig oor konstitusionele hofuitspraak

Die Vaal River Development Association (VRDA) wat namens besighede en inwoners in Parys optree, het Eskom net tyd tot 29 Desember om 12:00 gegee om te sê of die kragvoorsiener van voorneme is om verdere lasvermindering en/of addisionele beurtkrag in die Ngwathe munisipaliteit toe te pas, bo en behalwe nasionale beurtkrag.

In die skrywe wat vandag, 26 Desember, aan Eskom gestuur is, word die kragvoorsiener duidelik gewys op die meerderheidsuitspraak in die konstitusionele hof op 23 Desember wat finaal beslis het dat Eskom nie lasvermindering in die Ngwathe en Lekwa munisipaliteite mag toepas waarmee verbruikers in die wanbetalende munisipaliteite tot dusver gestraf is nie, en word die kragvoorsiener gewys daarop om hom te weerhou van ‘onwettige’ aksies vir kragvermindering, en of verdere beurtkrag benewens nasionale beurtkrag.

Inwoners van Parys maar ook die ander Ngwathe dorpe is veral op Kersdag ten spyte van die aankondiging van Eskom dat geen beurtkrag op Kersdag toegepas sou word nie, genadeloos gestraf met urelange kragonderbrekings sonder dat inwoners gewaarsku is of kans gehad het om voorsiening te kon maak vir die kraglose ure.

Die munisipaliteit het by monde van sy burgemeester, rdl Victoria de Beer, herhaaldelik bevestig dat die munisipaliteit nie antwoorde uit Eskom kry of vooraf gewaarsku is nie.

Vir Parys wat n toerismedorp by uitstek is kon die tydsberekening nie slegter wees nie, terwyl Desember juis hoog seisoen is en talle besoekers na die dorpie stroom wat as gevolg van die onbeplande kragonderbrekings, ook lam gelê word met watervoorsiening omdat die suiweringsaanleg stilstaan sonder krag.

Die konstitusionele hof was met sy meerderheidsbeslissing baie duidelik dat verbruikers nie vir munisipaliteite se onvermoë gestraf kan word nie.

Volgens die VRDA se raadgewende prokureur, mnr Lou van Wyk, beteken dit dus dat Eskom nie buite nasionale beurtkragtye nog addisìonele kragonderbrekings kan toepas om munisipaliteite te dwing om hul verpligtinge teenoor die kragreus na te kom nie. Betalingskwessies moet deur die wetlike kanale aangespreek word, het Van Wyk aan Gazette gesê, en word dit ook duidelik gestel in die skrywe aan Eskom.

In sy skrywe aan Eskom sê die VRDA se regsspan dat die publiek nie vooraf gekonsulteer is oor die beoogde stappe om kragvoorsiening te verminder nie, en dat die span ook nie kennis dra van enige tegniese probleme op die kragnetwerk wat kragvoorsiening kan beinvloed nie

Daarom is die vermindering van kragvoorsiening en toepassing van addisionele beurtkrag bo en behalwe normale nasionale beurtkrag skedule tye prima facie onwettig word gesê in die skrywe.

Die VRDA sê voorts sou Eskom voortgaan om strydig met die hofbeslissing met sy aksies van ladingsvermindering voort te gaan, sal hy genoodsaak wees om weer die hof op n dringende basis te nader

Wat het die hof vroeër beslis

Die oorspronklike bevel het gehandel met die herstel van die  Eskom transformator in Parys en aanskakeling van die 20 MVA 2 transformator voor November 2020.
Eskom het die een transformer toe in Februarie 2021 herstel , maar nooit die 2de transformator aangeskakel nie behalwe in die winter van 2021 en toe weer in die lente afgeskakel.
Daarna het hulle geweier om dit weer aan te skakel.
In Julie 2022 het hulle die 1ste transformer weer afgesny en geweier om dit aan te skakel.
Eers nadat hulle met die burgermeester vergader het en onregmatig die 2e transformator van 20MVA verwyder het en dit met ‘n 10MVA transformator vervang het, het Eskom die krag  4/5 dae later weer aangeskakel.
Die konstitusione hofuitspraak handel nie in detail hiermee nie , maar Eskom se appél is in geheel van die hand gewys en staan regter Anthony Millar se oorspronklike uitspraak dat kragvermindering nie in die Ngwathe en Lekwa munisipaliteite toegepas mag word nie, steeds

* Gazette het Eskom gevra vir n verklaring oor die kragonderbrekings in Parys buite geskeduleerde nasionale beurtkragtye maar het nog geen verklaring met die skryf van hierdie berig ontvang nie. Sodra die verklaring ontvang word sal dit bygewerk word.

 

The copyright to this information resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author.


Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button