Local news

Slange woelig met die baie reën

Met die baie reën die afgelope tyd word meer slange oënskynlik nou gesien.

Op Saterdag, 10 Desember het Brian Strong van die plaas Paardekraal in die Vredefort-distrik, ‘n noue ontkoming gehad toe hy twee keer deur ‘n pofadder gepik is.
Dit het gebeur terwyl hy en sy pa Adriaan, by ‘n waterkrip in die veld besig was. Brian het gereedskap in die bakkie gaan haal en toe hy op pad terug met die gereedskap deur die draad klim, is hy gepik. Aanvanklik het dit vir hom gevoel of die draad hom teen die been geklap het, maar hy het gou besef daar is fout. Hulle het na Mediclinic Emfuleni in Vanderbijlpark gejaag waar anti-serum beskikbaar was. Nog anti-serum wat nodig was, kon vinnig van ‘n ander hospitaal verkry word.

Op die foto is ‘n molslang. Inlas: Brian se been waar ‘n pofadder hom twee keer gepik het.

Brian was ‘n paar dae in die intensiewe sorgeenheid maar is reeds op 15 Desember ontslaan, het sy ma, Cecile gesê. “Ons sien die Here se hand in alles,” het sy gesê toe sy vertel het hoe hulle ten spyte van die gesukkel met swak selfoonsein, by die regte mense en hospitaal kon uitkom waar Brian vinnig gehelp is. Sy het ook groot lof gehad vir Johan Marais vir sy bystand en hulp.
In Parys word bruin huisslange en rinkhalse die meeste gekry. Wees katvoet, waarsku Wynand Nel van We Care wat gereeld moet help wanneer slange by huise gewaar word. Hy sê pofadders is ook volop, maar veral op plase.
Wynand sê die belangrikste is om nie paniekerig te raak nie. “Mense moet net bel sodat ons die slange kan verwyder.” Wynand kan by 082 629 1553 geskakel word.
Hy sê die grootste fout wat mense maak wanneer hulle ‘n slang gewaar, is om weg te hardloop. “Wanneer ons daar kom is die slang weg. Dit is belangrik om jou oë op die slang te hou. Anders is dit bitter moeillik om die slang op te spoor wanneer ons daar kom om te help. Slange klim in baie klein gaatjies. Dit is moeilik om hulle dan te soek. Jy wil nie ‘n kans vat nie, want as dit ‘n gevaarlike slang is, kan jy nie in die donker rondkrap op soek na hom nie.”
Die grootste kopseer is dat mense nie slange ken nie, sê hy. Mense verwar dikwels rinkhalse met kobras. As jy ‘n rinkhals pla, sal hy jou spoeg. Rinkhalse staan bakkop, en selfs skaapstekertjies kan ‘n redelike ‘show’ opsit. Maar die meeste slange waarmee ons moes werk, was rustig,” sê Wynand.

Slange wil ook nie graag met mense kennis maak nie en is eintlik sku. Met die uitsondering van die adder familie soos pofadders en Gaboen adders wat stil bly lê, sal hulle eerder vinnig wegseil as hul deur mense verras of gesteur word. Slange jaag of agtervolg ook nie mense nie.
Wynand sê dat hulle vanjaar meer as gewoonlik boomslange gekry het. Minstens vyf boomslange is oor ‘n tydperk na die winter by huise in die dorp gekry.
Interessant genoeg is daar ‘n groter probleem die laaste tyd met likkewane, sê Wynand. Hy sê heelwat likkewane is in die dorp gekry, waarskynlik ook weens die baie reën. “Mense is baie bang vir hulle en eintlik is hulle skadeloos. Hulle sal jou nie sommer beseer nie. Oor die algemeen soek hulle net ‘n lêplek, en sodra hul ‘n lêplek gekry het, sal hul dan weer aanbeweeg.”
‘n Paar interessanthede oor likkewane:
* Likkewane se lengte kan wissel tussen 20 en 300 cm (die Komododraak).
* Daar is 30 spesies in die likkewaan familie.
* Likkewane se sterk, gevaarlike kloue laat hulle rats en vinnig beweeg, en kan hulle in bome of oor rotse klouter.
* Hul stert is sydelings afgeplat en is nie net ‘n swemorgaan nie, maar ook hul wapen.
* Hoewel die rugskubbe rond is en nie oormekaar gerangskik nie, is die skubbe op die pens meer vierkantig en in dwars rye gerangskik.
* Dit is nie net die likkewaan se lang gevurkte tong wat met slange ooreenstem nie. Ook die bou van die ruggraat en skedel toon ooreenkomste.
* Die tong dien ook as reukorgaan. Likkewane is dagdiere en vleisvreters, hoewel hulle ook eiers eet. Die grootte van die prooi word bepaal deur die grootte en ouderdom van die likkewaan. So sal jong likkewane van kleiner spesies insekte vreet.
* As hulle bedreig voel, soek hulle skui-ling, en as hulle nie kan wegkruip nie, suig hulle hul lywe vol lug en neem ‘n dreigende houding in, meestal op die agterpote en maak ‘n blaasgeluid. Die vyand word dan met die stert, bek en kloue afgeweer.
Wenke om in gedagte te hou sou ‘n slang jou byt:
1. Beweeg die persoon na veiligheid om te voorkom dat hy/sy ‘n tweede keer gepik word.
2. Bly kalm en probeer so gou moontlik by ‘n hospitaal kom.
3. Omkring die plek van die slangbyt en maak ‘n nota van die tyd. Hou swelling dop.
Moenie
1. Suig aan die wond
2. ‘n Snit maak by die wond nie.
3. Die ledemaat waar die wond is, hoër as die hart lig nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button