Local news

Jou plesier, diere se pynlike nagmerrie

Dramatiese en harde, onverwagse geluide kan troeteldiere ontstel en hulle angstig maak

Die feestyd is hier. Lees hier hoe jy jou troeteldiere kan help om die geraas van vuurwerk te hanteer. Dramatiese en harde, onverwagse geluide kan troeteldiere ontstel en hulle angstig maak. Hulle kan verward en bang raak en dan weghardloop.

Die Vereniging vir die Troeteldierkosbedryf van Suider-Afrika (PFI) het ’n plan van aksie vir troeteldiereienaars oor die land heen saamgestel in ’n poging om ons troeteldiere veilig en gemaklik te hou.
1. Beplan jou skedule rondom al die vieringe sodat jy kan verseker dat jy saam met jou troeteldiere by die huis is wanneer dit lyk of die wêreld daar buite ontplof.
2. Tref spesiale voorsorgmaatreëls om hierdie tye vir jou troeteldiere makliker te maak. Hou hulle veilig binnenshuis met genoeg kos en water. Bly by hulle om hulle te troos en liefde te gee, en speel speletjies met hulle as hulle wil om dit ’n positiewer ervaring te maak. Speel strelende musiek om die skrikwekkende geluide buite te probeer uitskakel. Oorweeg ’n ThunderShirt. Dit is ’n styfpassende baadjie wat diere help om minder angstig te voel. Gee kalmerende medikasie indien nodig (vra jou veearts raad). Dit kan ook in ander stresvolle situasies nuttig wees.
3. Berei ’n veilige ruimte vir jou troeteldiere voor waarheen hulle kan gaan as die stres te veel is vir hulle. Hulle sal die plek kies; dikwels in ’n hoekie. Kyk waarheen hulle gaan wanneer hulle gespanne raak en berei vir hulle ’n gerieflike bed voor met water naby.
4. n Getraumatiseerde dier is onvoorspelbaar. Kry dus hulp van ’n kenner as jy ’n dier in nood wil help.
5. As jy nie in hierdie tyd by die huis kan wees nie, onthou dat die getal rondloperdiere oor hierdie tydperk verhoog, grootliks omdat diere weghardloop om van die geraas te ontsnap wat vrees, angstigheid, paniek en verwarring veroorsaak. Dié ontsnappingspogings kan dikwels beserings tot gevolg hê. Probeer verseker dat hulle op ’n veilige plek bly en verwyder artikels wat beserings kan veroorsaak.
6. Simpatiseer met jou troeteldiere en verstaan dat die vuurwerkontploffings wat jy hoor baie meer ontstellend vir ’n dier is. Die klank van vuurwerke kan tot 190 desibels (’n volle 110 tot 115 desibels hoër as die punt waar skade aan die menslike oor begin) wees en dit kan die dier se veel fyner gehoorsin beskadig. Vuurwerke skep ’n geraasvlak wat hoër as die geraas van geweerskote (140 desibels) en laagvlieënde straalvliegtuie (100 desibels) is. Onherstelbare oorskade, soos oortuiting en gehoorverlies by mense, begin by 80 desibels. ’n Jy kan jou indink watter impak dit op ’n dier se gehoor het, wat sensitiewer is.
7. Hou jou troeteldiere ver weg van die vierings. Diere wat te na aan vuurwerkontploffings kom, kan brandwonde en oogskade opdoen.
8. Kry behoorlike inligting oor die algehele uitwerking van vuurwerke en neem dit in ag voordat jy self aan die vierings deelneem. Hoewel vuurwerke pragtig is om na te kyk, is die negatiewe uitwerking daarvan op die planeet enorm – behalwe dat dit wilde diere – nie net jou troeteldiere nie – emosioneel erg ontwrig, veroorsaak dit ook lig-, geraas- en lugbesoedeling en dra die weggegooide oorblyfsels by tot ’n reeds ernstige rommelprobleem.
9. As die ergste gebeur en jou troeteldier raak weg, kontak sekuriteitsmaatskappye sodat patrollievoertuie op die uitkyk kan wees, bel nabygeleë veeartse ingeval iemand jou troeteldier daar aflaai, en kontak ook jou naaste DBV. Parys DBV se noodnommer is 072 894 4061.
10. Troeteldiere behoort met ’n mikroskyfie gemerk te word. As hulle ’n naamplaatjie met jou telefoonnommer op het in hierdie hoërisiko-tye, kan jy makliker met jou troeteldier herenig word.
Bron: Goeie Huishouding

Related Articles

Back to top button