Local news

Vloedwater saai chaos

Honderde mense moes die afgelope naweek hul wonings ontruim toe die Kliprivier weens swaar reën Saterdagoggend sy oewers oorstroom het.

*Die storie het op Woensdag 14 Desember 2022 in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn.

MIDVAAL. – Die eerste noodoproep is volgens Corné Heymans, Midvaal-brandweer se operasionele hoof, Saterdagoggend, 10 Desember omstreeks 02:00 ontvang.

Vir die volgende 48 uur moes lede van die Midvaal-brandweer bontstaan om mense in nood langs die Kliprivier in Khayelitsha, Everite, Daleside, Rothdene en Henley-on-Klip by te staan.

Verskeie mense was as gevolg van die vloedwater in hul wonings vasgekeer.

Vrydag het hulle verneem dat daar ‘n groot storm in Johannesburg was en dat daar water op pad is.

Die eerste gevalle is in die noorde aangemeld en daarna al verder af met die rivier tot in die suide.

“Wanneer die water kom, hardloop dit in ‘n golf. As daar ‘n erge storm in Johannesburg was, neem dit ongeveer 24 uur vir die water om hier (in Midvaal) uit te kom. Die water het eers by Kliprivier gestyg en toe dit hier sak het dit weer by die brug by Salojees begin styg, en so het die golf verder suid beweeg” veduidelik hy.

Talle paaie het tydens die naweek oorstroom en die munisipaliteit het in ‘n verklaring inwoners gewaarsku om brûe wat onder water is te vermy.

Talle vrywilligers van die plaaslike netwerke – veral in Henley-on-Klip – sowel as die Midvaal-verkeersafdeling het in die tyd van nood gehelp.

“Ons eerste prioriteit is om mense se lewens te red, daarna kyk ons of ons diere ook kan red,” vertel Heymans. In sommige gevalle is bystand ook gebied om inwoners se eindom te ontruim.

‘n Lid van die Midvaal-brandweer by ‘n huis langs die Kliprivier. Talle mense is tydens die vloed in hul wonings vasgekeer. Foto: Verskaf

Volgens Heymans was daar genadiglik nie enige sterftes in die Midvaal-gebied nie. V

erder noord het ao. Ntsako Patako (36), ‘n lid van die polisie se BBP-beskermingsdiens, gesterf nadat sy voertuig blykbaar Vrydagoggend in die Soweto-omgewing weggespoel het.

Sy lyk is Sondagoggend, 11 Desember langs die Kliprivier gevind. Heymans sê meeste van Henley-on-Klip se inwoners langs die rivier is reeds paraat aangesien daar gereeld oorstromings in die gebied is.

Nicole Steenkamp ‘n inwoner van Henley-on-Klip, het in ‘n stemnota vertel: “Tussen 06:00 en 07:00 (Saterdagoggend) toe sien ons die water kom op, maar hy was (so ver) al op. Toe sien ons hierdie rivier kom nou baie vining op en hy is die hoogste wat hy al ooit op was.”

Volgens Steenkamp was ‘n houthuisie op hul eiendom binne ‘n uur onder water.

“Ons het besef ons sal moet begin meubels skuif. Ons het darem die sitkamer en eetkamerstel uitgekry en toe is die huis gevloed,” vertel sy.

Een van talle huise in Henley on Klip wat oorstroom het. Foto: Verskaf

Skade is aan mense se eiendom en voertuie in die gebied aangerig.

Volgens rdl. Gerrit Viljoen, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het die munisipaliteit tente, matrasse en kos beskikbaar gestel aan mense wat deur die vloede verplaas is.

Viljoen het die brandweer geloof vir hul vinnige reaksie waar daar nood was.

Viljoen en ‘n span van die munisipaliteit was Maandag tot in die vroeë oggendure besig om paaie te herstel wat beskadig is nadat die vloedwater teruggesak het.

Intussen het die Suid-Afrikaanse weerdiens gewaarsku dat nog reën en donderstorms in die komende week oor dele van die land verwag word.

Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het weer eens ‘n beroep op inwoners gedoen om gevaarlike areas en brue wat onder water is te vermy wanneer die rivier in vloed is.

Inwoners wat in nood verkeer word versoek om Midvaal se noodgevalle-afdeling by (016) 360 7500 of (016) 360 7503 te skakel en duidelike inligting deur te gee oor die ligging van waar hulle skakel, sodat hulle maklik gevind kan word.

‘n Brandweerman van Midvaal-brandweer by ‘n voertuig wat deur die vloedwater meegsleur is. Foto: Verskaf
Die brug op die R511 na Heidelberg, by Salojees, het oorstroom. Foto: Christiaan Cloete

Related Articles

Back to top button