Local news

Motorfietsryer van Alberton sterf in noodlottige ongeluk in die Vaaldriehoek

Die soektog na ‘n 42-jarige motorfietsryer van Alberton wat 2 Desember vermis geraak het, het tragies geëindig toe daar later vasgestel is dat hy voorverlede naweek in ‘n noodlottige ongeluk met ‘n ambulans in in die Vaaldriehoek gesterf het.

Nico, ‘Nemo’ Basson (42), ‘n eletriese en meganiese werktuigkundige van Alberton, het Vrydag, 2 Desember op sy groen Kawasaki Ninja ZX9 motorfiets uit Alberton vertrek.

Hy is by die Alberton-polisie as vermis aangemeld toe hy nie teruggekeer het huis toe nie.

Volgens sy suster, Loriaan Basson, het Nico blykbaar vir ‘n vriendin in Vanderbijlpark gaan kuier.

Dit is moontlik dat hy Saterdagaand na die Poison Rally op pad was toe die ongeluk sy lewe geëis het.

Loriaan sê Nico het 11:00 Vrydag sy 11-jarige seuntjie by haar afgelaai en is van daar af werk toe. Hy het na werk vermoedelik na Vanderbijlpark vertrek om vir die vriendin te gaan kuier.

Nico het die volgende aand, Saterdag, 3 Desember gesterf toe ‘n ambulans van die ER24-ambulansdiens op die R42 (Barrageweg) met sy motorfiets by die kruising van Barrageweg en Muirweg in Vanderbijlpark gebots het.

Gertrude Makhale, ‘n woordvoerder van die polisie in Vanderbijlpark, sê die ongeluk het omstreeks 21:30 die aand gebeur.

Nico is tydens die botsing van sy motorfiets af geslinger en die nooddiensvoertuig het glo tydens die ongeluk omgeslaan.

Die groen Kawasaki Ninja ZX9 motorfiets. Foto: Facebook

Nico het sy lewe verloor en die bestuurder van die ambulans is na ‘n hospitaal in Alberton geneem vir behandeling. Loriaan sê foto’s van die ongeluk toon dat die ambulans moontlik die motorfiets van agter getref het aangesien die motorfiets aan die agterkant opgefrommel is.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê die beseerde nooddienswerker was in staat om self uit die omgekeerde voertuig te kom en is op die toneel behandel.

“Die motorfietsryer was in ‘n kritieke toestand en is op die toneel deur ‘n nooddienswerker wat van diens af was en lede van die provinsiale nooddienste behandel. Ongelukkig het die man later aan beserings beswyk,” sê Meiring.

Die ambulansdiens sê hy werk saam met die plaaslike owerhede om omstandighede rondom die ongeluk vas te stel.

Meiring het namens ER24 sy innige meegevoel teenoor die oorledene se vriende en familie uitgespreek.

Makhale sê die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

Sanca Swanepoel, ‘n vriendin van Nico wat hom sedert 12-jarige ouderdom ken, skryf in ‘n plasing op Facebook: “My hart is in stukke, Nemo. Van standerd 4 af was ons vriende en nou is jy net weg en ek kon jou nie eers groet nie. Ek gaan jou baie mis. Gelukkig het ons net altyd goeie fun en lag tye gehad. Rus in vrede my Nemo…liefde, jou Blommetjie.”

Loriaan beskryf haar broer as iemand wat altyd geglimlag het en bereid was om ander te help. Nico word oorleef deur sy 11-jarige seun, sy suster Loriaan en sy ouers, Leonie en Chris Basson.

Nico Basson en sy 11-jarige seun. Foto: Facebook 

https://vaalweekblad.com/151794/motorfietsryer-van-alberton-sterf-in-noodlottige-ongeluk-in-die-vaaldriehoek/?fbclid=IwAR3-joJEbVOAD3ruQBKGR1WsX99eJnYzzioQURS0ZwhGYyu9QmFggMRTnPA

Related Articles

Back to top button