Local news

Bejaarde egpaar in hul huis aangeval

Help asseblief om die skuldiges vas te trek

Skaars twee weke nadat die 89-jarige mnr. Daniël Labuschagne in sy tuin in Steynstraat, oorval en ernstig beseer is, is ‘n egpaar, Donderdag 15 Desember, by hul huis in Van der Merwestraat naby Hinterland aangeval.  Volgens Geraldine Davis, het haar pa, Gerald van Wyk, laatmiddag die elektriese hekmotor gaan oopsluit sodat hulle die hek kon oop- en toemaak wanneer dit later die middag beurtkrag sou wees.

Haar pa en ma het ‘n vaste roetine en moes nog dorp toe gaan.  Nadat hy terug was in die huis het haar pa vir hom en haar ma, Noodiline, tee gemaak, Hul aanvallers het ongemerk by die hek ingekom en toe by ‘n deur by die TV-kamer toegang tot die huis gekry.  Die egpaar is in die kombuis oorval en haar pa met ‘n baksteen aangerand en geskop.

In die struweling wat gevolg het, het haar pa die heel tyd haar ma probeer beskerm, het Geraldine vertel.  Haar ma is deur die aanvallers teen ‘n trap gestamp, en is haar pa toe met ‘n tou, en haar ma met ‘n strykysterkoord vasgebind.

Die mans het letterlik dit waarop hulle hul hande kon lê gevat en die huis in ‘n warboel gelos. Juwele, kontant, selfone, die motor en huissleutels, kos uit die ys- en vrieskaste, en selfs die kersgeskenke onder die kersboom is gevat.

Nadat die drie aanvallers die pad gevat het, het haar pa gekruip tot by die hek en om hulp geroep. Werknemers van Hinterland het hom te hulp gesnel en kon hulle die familie bel danksy ‘n telefoonboekie wat haar pa het met belangrike telefoonnommers daarin.

Die Van Wyk-egpaar is per ambulans na die Potchefstroomse Medi-Clinic geneem waar hulle behandel word.

Geraldine het na die aanval gesê ‘n beloning van R10 000 word uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die suksesvolle arrestasie van die drie mans wat verantwoordelik was vir die  aanval op haar ouers. Sy het mense met inligting gevra om haar by 071 182 9921 of Parys SAPD te skakel.

Sy het ook genoem dat haar ouers se honde in die verlede al vergiftig is en hul al verskeie kere  onder misdadidgers deurgeloop het met  voorvalle van diefstal.

  • Gazette het intussen verneem dat mnr. Labuschagne wat einde November in sy tuin oorval is, by sy seun, Coenie, in Welkom aansterk nadat hy na die aanval in die Lenmed-hospitaal in Johannesburg geopereer is om die skade aan sy wangbene te herstel. Sy aanvallers het hom helder oordag oorval terwyl hy in die tuin geskoffel het. Hy is met ‘n onbekende voorwerp geslaan en toe in een van die huis se kamers inforseer en vasgebind. Sy aanvallers het gevlug met onder meer ‘n waardevolle, antieke eetstel, sleutels, huwele en geld. || LS_aanval || bejaarde egpaar aangeval

Related Articles

Back to top button