Local news

Groot hartseer – Jan is gekry

Egpaar se liefdesdaad om hondjie se eienaar te soek wat in Vaalvloed sterf

Met die grootste deernis het ‘n egpaar van Lapa Manzi vanmiddag, Saterdag 26 November, uiteindelik berusting kon gee vir die eienaar van Jan,  die jong vermiste rooibruik staffie waarna daar sedert Saterdag 19 November in die Vaalrivier gesoek is.  Die egpaar het Jan se lyfie  vanmiddag in die rivier sien dryf en dadelik na die berigte oor die soektog na Jan besef dat dit hy moes wees. Hulle het op Facebook begin rondvra in ‘n poging om sy eienaar te kry sodat hulle minstens sy halsbandjie aan sy eienaar kon gee.

Jan het in die rivier beland  toe ‘n  boot deur ‘n sluishek oor die keerwal by die Barrage is. Hoewel die groep van ses mense  na veiligheid gebring kon word na die ongeluk, was daar geen spoor van Jan nie en het verskeie mense en organisasies help soek na die staffie.

“Ons het die lyfie in die rivier sien afdryf voor ons huis,” het ‘n baie hartseer Monica de Jager vertel. “Aanvanklik het ons gedink dit is ‘n houtstomp omdat daar so baie boomtakke, stompe en opdrifsels in die rivier afgekom het met die vloed. Ek het die verkyker gegryp en gesien dit is ‘n hond. My man, Bertie, het na hom gery met die boot, want hy was oortuig dit is Jan. ”

Met die grootste deernis het die egpaar Jan se halsbandjie afgehaal, dit skoongewas en met ‘n Facebook-plasing van die halsbandjie daarin geslaag om Jan se eienaar  op te spoor.

Dankie vir hierdie uitsonderlike gebaar van liefde om uiteindelik, ten spyte van die hartseer, berusting vir sy eienaar te kon bring.

Related Articles

Back to top button