Local news

Parysenaar in waarnemende pos op Eskom uitvoerende bestuur

As waarnemende Groep Uitvoerende Hoof Kragontwikkeling vorm Thomas deel van Eskom se Uitvoerende Komitee.

Parysenaar Thomas Conradie is aangestel as Eskom se waarnemende Groep Uit- voerende Hoof Kragontwikkeling, na die bedanking van Rhulani Mathebula verlede week.
Die groot taak wat nou op Thomas se skouers rus is die operasionele bedryf en instandhouding van al 14 Eskom se steenkool aangedrewe kragstasies, asook die kleiner aanlegte wat in spits aanvraag tye deur die kragverskaffer gebruik word. Maar 22 jaar se ervaring as bestuurder by verskeie van Eskom se kragstasies, het hom deeglik voorberei vir dié uitdagende taak.

Thomas se loopbaan by die kragreus het in 1991 begin nadat hy as Eskom-beurs-houer sy B.Ing-graad en Meestersgraad in Meganiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.
Hy het destyds as turbine stelsel ingenieur by die Matla-kragstasie naby Kriel begin werk. Na drie jaar by Matla is hy na Majuba-kragstasie naby Amersfoort waar hy deel was van die span wat Majuba in bedryf gestel het. Gedurende die nege jaar by Majuba vervul hy verskeie rolle, waaronder as turbine ingenieursbestuurder, produksie- en instandhoudingsbestuurder, waarna hy terug is na Matla-kragstasie as kragstasie bestuurder. Hy het die kragstasie vir agt jaar bestuur, voordat hy na die Kriel-kragstasie verplaas is.
Daarna het Lethabo-kragstasie naby Vereeniging gevolg in 2014, en het hy en sy gesin na Parys verhuis.
Net voor Covid se grendelmaande in 2020 is Thomas gevra om die Cluster-bestuurder te wees waarin hy die oorsigrol oor vyf van Eskom se kragstasies moes vervul. Dit het ingesluit Lethabo, Grootvlei, Matla, Duvha en Kusile. In September 2021 is hy aange-stel as Algemene Bestuurder Ingenieurswese Kragontwikkeling. ‘n Pos wat hy tot nou beklee het, en waar hy die hele ingenieurs- wese dissipline vir Eskom, wat betref kragontwikkeling, oorsien het. Eskom funksioneer op drie bene naamlik Kragontwikkeling wat die bestuur van die kragstasies behels, Transmissie wat die kragnetwerk en verspreiding behels, en Distribusie wat die verdere verspreiding en lewering aan die eindverbruiker en munisipaliteite insluit.

Related Articles

Back to top button