Local news

Mev. SA kroondraers spog in prag skeppings van twee van Parys se ontwerpers

As jy na die foto's van vanjaar se Mev. SA kroning kyk en die skeppings gemaak deur twee van Parys se ontwerpers, weet jy 'n besoek aan die dorp is die moeite werd vir meer as een rede.

Daar is min dorpe wat so onder jou vel kom lê soos Parys as dit kom by die romantiek en unieke karakter van die dorp. Maar dit is meer as net die dorp se besonderse natuurskoon waarvoor Parys bekend is. Van die Kaap tot Tzaneen ry skoonhede, glanspersoonlikhede en bekendes na dié Vrystaatse dorpie met sy talentvolle ontwerpers.
By vanjaar se kroning van Mev. SA het die stylvolle uitrustings van twee van Parys se ontwerpers die aandag getrek, Nie net het vanjaar se kroondraer, Palesa Majekane, geskitter in ‘n rok van Werner Dey van Werner Dey Couture nie, maar is ook haar eerste prinses, Hlengiwe Sabela, geklee deur Werner.
Die beeldskone Jo Judnick-Wilson, Mev. SA 2022 wat haar kroon oorgegee het aan Palesa, is deur Tienie Boshoff van Tienie Boshoff Couture geklee, So ook Jacqueline Ferns, die Mev. SA kroondraer van 2020.

Jo Judnick-Wilson, Mev. SA 2022, oorhandig die kroon aan Palesa Majekane tydens die glans kroningsaand van vanjaar se Mev. SA. Palesa is geklee in ‘n skepping van Werner Dey Couture, en Jo in ‘n skepping van Tienie Boshoff van Tienie Boshoff Couture. Foto: Brendan Croft.

Werner is al die afgelope tien jaar betrokke by die Mev. SA kroning, en voorheen ook by die Mej. SA kompetisie. Hy het vanjaar 8 van die Mev SA finaliste re rokke gemaak, asook die rok van Joani Johnson wat aan die stuur staan van die Mev SA-kompetisie, en self ‘n voormalige Mev SA, die rok van Matapa Maila wat in 2019 die Mev. SA kroon gedra het en as 1ste prinses vir Mev. Wêreld gekroon is, die uitrusting van die hoofbeoordelaar, en die rokke van sommige van die borge van die stylvolle aand.
Werner het vanjaar onder andere ook vir Chanique Rabe geklee. Sy was Mej. Supranational Internasionaal 2021.
Met die Mev. SA-kroning vanjaar was die kleurskema waarvolgens die ontwerpe vir die finaliste gedoen is, swart-en-vleeskleur. Swart is universeel en een van sy gunstelinge kleure, gesels Werner. Uit jare se ervaring met skoonheidskompetisies wou hy hê dat die finaliste wat hy geklee het, ‘n impak op die verhoog moes maak, en is daar in sy ontwerpe gefokus op blink, borduurwerk, vroulik dog romanties, sodat elkeen waardig sou lyk vir die titel.

Werner Dey van Werner Deur Couture in Parys.

Tienie wat sedert 2014 Parys sy tuiste gemaak het, vertel dat hy met sy skepping vir Jo, vir haar ‘n laaste ‘wow’ oomblik op die verhoog wou gee waarin sy sou skitter. ‘n Oomblik wat sy altyd sou koester wanneer sy die kroon oorgee. En dit het hy reggekry met Jo wat gesprankel het in ‘n heldergeel skepping. Geel is haar gunsteling kleur, gesels Tienie, wat die afgelope 7 maande verskeie uitrustings vir haar gemaak het. “Sy vertrou my oordeel ten volle,” sê hy. Die inspirasie vir die rok het gekom van ‘n stuk geel kant wat hy gehad het.

Tienie Boshoff van Tienie Boshoff Couture in Parys.

En beurtkrag of te nie – geen uitdaging was te groot vir die twee ontwerpers nie. Jo se rok is handgemaak deur Tienie.
Die naweek van 26 November sal Jo weer in Parys wees vir haar finale passing by Tienie vir haar uitrustings vir die Mev Wêreld-kompetisie waaraan sy van 10-18 Desember deelneem. Sy vlieg op 7 Desember na Las Vegas vir die geleentheid. Tienie het haar nasionale uitrusting waarmee sy haar land verteenwoordig, en twee aand- rokke vir die kroningsaand gemaak.
As jy na die foto’s van vanjaar se Mev. SA kroning kyk en die skeppings gemaak deur twee van Parys se ontwerpers, weet jy ‘n besoek aan die dorp is die moeite werd vir meer as een rede.

Foto’s: Brendan Croft.

Foto: Brendan Croft.

Foto: Brendan Croft.

 

Foto: Brendan Croft. 

Related Articles

Back to top button