Local newsSport

‘My mikpunt was nog altyd om my beste te gee’

Die toekenning is 'n groot deurbraak vir my, vir die sport, vir SA en vir Afrika.

“Dit is nie wat ons het nie, maar wat ons agterlaat wat saak maak. Vandag maak Ringkontak Gevegskuns internasionaal nuus. Dankie vir die wêrelderkenning wat aan dié styl gegee is.”

Met dié trotse woorde het Suid-Afrikaner Joe Viljoen, wat Ringkontak Gevegskuns in 1984 ontwikkel het, en vandag in 28 lande beoefen word, sy ere gordel, trofee en sertifikaat ontvang as internasionale erkenning vir sy jarelange betrokkenheid en vestiging van die styl by ‘n toekenningsgeleentheid van Action Martial Arts Magazine se Hall of Honors Banquet in Atlantic City.

Joe, wat ook die eienaar van die Chazen Nature Reserve in die Vredefort-distrik is, was die enigste Suid-Afrikaner wat by dié glansgeleentheid vereer is. Hy was ook die enigste persoon in Afrika wat genomineer was. Slegs 50 toekennings uit nominasies vanoor die wêreld is uiteindelik oorhandig.
Joe het in sy toespraak die uitvoerende bestuur van die Martial Arts Magazine se Hall of Honors bedank vir die erkenning, en hulde gebring aan verskeie van sy instrukteurs wat hom as jong amateur student in karate, stoei, judo, boks en ballet onderrig het.

Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor verskeie mense wat ‘n rol in sy sportloopbaan gespeel het, en geglo het in die gevegstyl. Daar is mense saam met wie hy al vir meer as 30 jaar oefen, het hy gesê, en ook verwys na sy shihans, senseis, oefeninstrukteurs, skeidsregters, en tafelskeidsregters vir die rol wat hulle speel.

“Bowenal sê ek dankie aan God vir die kennis, uithouvermoë en liggaamlike gesondheid om die sport vir so lank te kan beoefen,” het hy gesê.

Ringkontak gevegskuns is gebaseer op elemente van boks, judo, stoei, ‘knock down’ (oyama) karate en ballet, en is in 1984 internasionaal erken. Daarna het ook nasionale erkenning in 1987 gevolg. Oor die jare het die styl 17 pro-wêreldkampioene, 14 amateur wêreldkampioene en 78 nasionale kampioene opgelewer, met Joe wat self die eerste skopboks pro-wêreldkampioen was.

Die Ring Contact Fighting Art presidensiële span met 21 spanlede wat Suid-Afrika in September 2023 by die World Kickboxing Organization se wêreldkampioenskappe in Engeland verteenwoordig het, het ook groot welslae behaal met 51 medaljes en 14 amateur wêreldkampioentitels wat verower is. Een en sewentig lande het aan die kampioenskap deelgeneem.

“‘n Mens werk hard, maar ek het nooit gedink dat die eer en erkenning my te beurt sou val nie,” sê Joe. Hy het vir jare gestoei en ballet, en in beide sportsoorte uitgeblink, maar toe hy moes kies tussen dans en ‘baklei’, was die antwoord die ontwikkeling van ‘n styl waarin hy die elemente van beide kon inkorporeer, sê hy.

In 1989 word hy WPKA middelgewig wêreldtitelkampioen – ‘n titel wat hy sewe keer suksesvol verdedig het totdat hy uiteindelik uitgetree en hom op die afrigting van studente toegepits het.”

Dit was lekker om gevegskuns in Suid-Afrika te ontwikkel, en om oor die afgelope veertig jaar te kon sien hoe daar teen die wêreld meegeding en titels verower word,” sê Joe.

Die toekenning is ‘n groot deurbraak vir my, vir die sport, vir SA en vir Afrika. “My mikpunt was nog altyd om my beste te gee.”

Joe Viljoen met die ere-gordel wat hy ontvang het, en sy trofee en sertifikaat in die agtergrond. By hom is Joe Corley, bekende in PKA-kringe.

Daar is nou 92 Dojo’s in die styl in al nege provinsies van Suid-Afrika gevestig. Hoewel Parys nog nie ‘n Dojo het nie, is die plan om binnekort ook die styl hier te vestig, sê hy.

In Oktober 2025 is Suid-Afrika die gasheer vir die Ring Contact Fighting Art Wêreldkampioenskappe waar deelnemers van 54 lande sal meeding.
“Ek glo dit sal die grootste gevegskuns wêreldkampioenskap wees, en ‘n groot prestasie om dit plaaslik by die Emerald Casino te kan aanbied,” vertel Joe. Die toernooi sal oor vier dae gehou word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button