Photo GalleriesSport

Aanhou gaan sy aanhou tot op 80, sê Helena ná parkrun mylpaal

Aanhou gaan sy aanhou tot op 80, sê Helena ná parkrun mylpaal

 

Tweehonderd en vyftig keer het sy al op ‘n Saterdagoggend haar tekkies aangetrek om die parkrun te hardloop – reënweer of te nie, en elke vroeg opstaan was die moeite werd vir die 60-jarige Helena Ackerman van Parys. Saterdag kon sy hierdie groot parkrun-mylpaal saam met mede-parkrunners in Parys vier.

Dit is juis die lekker van parkrun, gesels sy as sy vertel dit maak nie saak waar jy deelneem nie, dit is soos een groot familie. Naas die parkrun in Parys waar sy al sedert die begin van Parys parkrun op 8 November 2014 deel was, het sy ook al as parkrun-toeris op 30 ander plekke deelgeneem – tot sover as George en Hartenbos. Daar is baie mooi en ook minder mooi roetes, maar oral vier parkrunners saam mekaar se mylpale, want dié wat deelneem weet wat dit verg om hierdie mylpale te behaal, sê sy.

As sy die dag 80 is wil sy nog parkrun doen, al moet sy dan stap. Sy was van jongs af baie aktief en het op skool aan al wat sport is deelgeneem, maar op universiteit het sport noodgedwonge agterweë gebly. Deur die jare het sy egter bly stap waar sy kon, maar parkrun het haar die geleentheid gegee om weer met ‘n doel voor oë te begin hardloop. Saterdag se mylpaal was die hoogepunt van vyf jaar se vasbyt, selfs ná ‘n skoueroperasie verlede jaar.

Nou is haar volgende mikpunt haar 500ste parkrun wat haar nog sowat vyf jaar sal neem om te voltooi, maar ook vir dié uitdaging sien Helena kans – sy het immers nie verniet met die eerste parkrun toetslopie in Parys besluit sy’s in om te bly nie! * Die huidige Egweni River Lodge parkrun (voorheen bekend as Parys parkrun) het Saterdag, 15 Januarie sy 15de parkrun geleentheid aangebied, nadat die roete die eerste keer op 9 Oktober 2021 geopen is.

 

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button