Photo GalleriesSport

Vlieghengelfees om Vaal se ‘geelgoud’ te bewaar

Jy kan deel wees van die “Fishing for Yellow Gold in the Vredefort Dome” inisiatief

Dit alles het begin by ‘n droom om die Vaal se vislewe te bewaar te midde van groeiende kommer oor die besoedeling van die land se waterbronne.
Met dié droom het die planne vir ‘n vlieghengelfees gestalte gekry wat nou vir die eerste keer in Parys gehou sal word van 24 tot 27 Oktober.
Die doel – om deur middel van dié baie gewilde sport, fondse in te samel vir die bewaring van ons natuurlike waterbronne en die reeds bedreigde geelvis. Die hoop is om data te versamel wat gebruik kan word in die navorsing oor besoedeling, die gesondheid van ons vislewe en onwettige aktiwiteite en metodes van hengel. Tans dra die Vaalrivierstelsel by tot meer as 60% van drinkwater in Gauteng, en is talle dorpe langs dié rivier afhanklik daarvan vir watervoorsiening. Die Vaaldriehoek sowel as dorpe soos Parys, Vredefort, Orkney, Bloemhof en ander, maak staat op die rivier vir ekonomiese oorlewing, watervoorsiening en toerisme.
Met dié vlieghengelfees wil die organiseerders die boodskap van bewaring uitdra en die sport aan jonger hengelaars bekendstel. Hulle wil ook Parys en die middel Vaal as premium vlieghengel tuiste, rekreasie en vakansiebestemming bemark.
Jy kan deel wees van die “Fishing for Yellow Gold in the Vredefort Dome” inisiatief deur in te skryf teen R8 000 per span van 4 lede. Daar is net ‘n beperkte aantal spanne wat kan inskryf vir twee heerlike vol dae van vlieghengel in die Vaal.
Boonop sluit dit ook twee werkswinkels in met Daniel Factor en Mark Yelland, wat die fynere kunsies en geheime van vlieghengel kom deel. Inskrywingsgelde sluit ook aandete en ‘n versnapperingspakkie vir langs die viswater in. Bring jou beursie saam om jou hengelgerei aan te vul, en dalk is jy een van die gelukkige wenners tydens die fees. Heelwat pryse moet gewen word. Daar word op private grond gehengel en die fees word afgesluit met ‘n veiling, gala-aand en prysuitdeling. Registrasie kan gedoen word by www.parysxplore.info/flyfishing. Vlieghengelaars kan beslis nie dié fees misloop nie.
Ondersteun organisasies soos Save the Vaal Environment en die Vaal Action Group in die werk wat hulle doen om ons waterbronne te beskerm, en kom geniet ‘n fees van vlieghengel.
Vir meer inligting skakel Gerhard van Zyl by 082 892 3369.
Meer oor die geelvis:
So min as wat die geelvis elders in die wêreld gevang kan word, soveel is hierdie visspesie enige vlieghengelaar se droom. Omdat hulle leef van akwatiese organismes, is hulle redelik gewillig om die aas van vlieghengelaars te vat, maar moenie dink dat dit sonder uitdagings sal wees nie.
Die Nasionale Geelvis Werkgroep van Suid-Afrika erken 9 geelvisspesies wat elkeen sy eie uitdaging aan hengelaars bied ten opsigte van geografiese ligging, stroomligging, die gewenste hengelaanslag en hul voedingsvoorkeure.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button