CommunityPhoto Galleries

Koor- en orkesuitvoering in Vredefort

Koor- en orkesuitvoering in Vredefort

Op Saterdagaand 31 Augustus om 18:00 bied die Koepel Kunstesentrum weer `n musiekuitvoering in die NG Kerk in Vredefort aan. Die konsert is die afsluiting van `n weeklange barokmusiekseminaar wat op Deelfontein plaasvind en deur die Oostenrykse dirigent Michael Anderl (Innsbruck) gelei word.
’n Klein kamerkoor en instrumentele ensemble bestaande uit strykers, blokfluite, skuiftrompette, dulsiaan en orrel vertolk werke van Suid-Amerikaanse barokkomponiste. In die jaar 1492 het Christophorus Columbus Amerika bereik op `n ontdekkingsreis wat die doel gehad het om `n weswaartse roete na China, Indië en die Fillipynse eilande te vind. Gelok deur gerugte van goud- en silwerskatte in Amerika, het die Spaanse en Portugese heersers, avonturiers soos Cortez en Pizarro gestuur om die nuwe gebiede te verower, en in die jare wat op Columbus se ontdekkings sou volg, ontstaan die kolonies wat vandag nog die Midde- en Suid-Amerikaanse state uitmaak.
Op die hakke van die veroweraars het die sendelinge gevolg, en gou het die kerk met `n groot aanhang onder die Spaanse en Portugese setlaars asook die inheemse bevolking gefloreer.
Benewens teoloë was natuurlik ook musici vir die musiek in hierdie kerke nodig. Aanvanklik het hulle uit Spanje en Portugal gekom en die bestaande musiektradisies uit hulle moederlande in die nuwe wêreld gevestig. Gou het `n nuwe geslag van Amerikaanse musici ontstaan wat toenemend deur die inheemse kulture beïnvloed is.
Vandag is die Latyns-Amerikaanse volksmusiek en sy invloed op westerse kunsmusiek alombekend, maar meeste mense weet nie dat hierdie tradisie baie ou wortels het nie, en dat daar `n ryk skat van sestiende- en sewentiende-eeuse Barokmusiek in Amerika ontstaan het.
Hierdie onbekende en opwindende musiek is die tema van die musiekseminaar wat in die laaste week van Augustus op Deelfontein aangebied word.
Die afsluitingskonserte vind in Vredefort op Saterdagaand 31 Augustus en in Pretoria op Sondagmiddag 1 September plaas.
Meer inligting op www.deelfontein.co.za en by Gerhard Benade 083 280 9784 of gerhard@deelfontein.co.za.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button