Photo GalleriesSchool

“Dit was ’n ongelooflike reis”

Vrydag 28 September sal die laaste dag wees dat hy agter sy lessenaar sal sit. Die laaste dag in die personeelkamer. Die laaste dag by Parys Primêre skool. Die einde van ‘n era vir dié skool.

Na 23 jaar by Parys Primêr, en 43 jaar in die onderwys, lê mnr. Chris de Swardt die tuig as skoolhoof neer.
‘n Skool wat hy vanaf 1995 met toewyding trots en by uitnemendheid gedien en gelei het op ‘n bestendige koers, juis in ‘n tyd wat die land in baie onstuimige politieke water was.
Min het geweet van die lang ure, moeilike vergaderings en besluite wat geneem moes word saam met die beheerraad om ‘n skool te lei in tye wat selfs vir die onderwys ingrypende veranderinge sou inhou.
Vrydag groet Parys Primêr en die gemeenskap van Parys, meer as ‘n leier. Ons groet ‘n kindervriend, iemand wie se plek nooit leeg was langs die sportveld of in die kultuursaal nie. Iemand wat rustigheid in ‘n skool gebring het.
Iemand wat selde vakansies tuis was, maar die land sou sien deur die onderwys met die talle kinders waarmee hy sou toer oor die jare vir sport en kultuur.
Iemand wat in die woorde van Leroy Eimes “‘n leier was wat meer kon sien as wat ander kon sien, verder kon sien as wat ander kon sien, en wat dit kon sien voor ander dit kon sien.”
Vir hom sal die skitterende revues wat die skool elke vier jaar op die planke gebring het, altyd uitstaan. Sy ongelooflike groep toegewyde personeel – van wie hy oor die jare elke voetstap leer ken het. Die spontane omgee en liefde van kinders. Elke handdruk en vriendelike groet op die speelgrond – ‘n kind se armpies wat om jou been sou vou in erkentlikheid van ‘n man wie se voetspore hul raakgesien het. Hier sou dissipline nooit ‘n instruksie wees nie, net ‘n spontane voorbeeldspoor vir hulle wat moes volg.
Nou is hy reg om te gaan. Te pendel tussen Potchefstroom en Hermanus om by sy kinders en kleinkinders te wees. Welverdiende tyd saam – die begin van ‘n nuwe reis vir Chris en Marietjie de Swardt, wat ook reeds die tuig neergelê het na 20 jaar as graad 3 onderwyseres by Parys Primêr.
Naas sy kinders en kleinkinders, vertel hy dat hy graag meer sal wil lees, homself wil verryk met die skat van literatuur. En dan is daar die dinge en om die huis, hul nuwe tuiste, wat Chris en Marietjie gaan besig hou.
“Die onderwys was ongelooflik goed vir my. Ek gaan met ‘n vrede in my hart. Die skool is op ‘n goeie plek – selfs beter as 23 jaar gelede, en ek is dankbaar vir my gesin wat my die vryheid gegee het om te kon werk.”
“Ek kan net ongelooflik dankie sê vir ‘n wonderlike reis en sterkte vir die pad vorentoe.”
* Mnr. Goof Gresse sal as skoolhoof waarneem. Iemand wat vir 20 jaar met groot bekwaamheid die taak as adjunkhoof verrig het, en die skool in al sy fasette ken.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button