CommunityPhoto Galleries

Erfenisdag met kultuurfees in eg Boeretradisie gevier

Mense wat navrae het oor die Kultuurfees op Erfenisdag, is welkom om (056) 811 2971 of Sanette by 079 324 0603, te skakel vir die huur van ‘n stalletjie, of om deel te wees van die potjiekos kompetisie en dag se pret.

24 September is Nasionale Erfenisdag. ’n  Dag wat Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) vanjaar op egte boeretradisie gaan vier. Daar sal gebraai en potjiekos gemaak word, terwyl boeresport en verskeie stalletjies met kuns en handwerk sal sorg vir ’n feesatmosfeer in eg boere tradisie. Die fees sal gehou word by Egweni in Van Collerstraat.
Erfenisdag gaan egter nie net oor die eie kultuur nie, maar veral ook uitreiking oor kultuurgrense heen. Elemente van nasionale eenheid, nasiebou en versoening moet benadruk word.
Die doel van die dag is daarom om die jeug aan te moedig om Suid-Afrikaners se gedeelde erfenis in ere te hou.
Erfenis is al omskryf as “dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur, musiekstukke, mondelinge tradisies en museumversamelings saam met hul dokumentasie.
VVA Parys kon nie aan ‘n beter manier dink om die organisasie, wat op 25 Maart 1908 sy ontstaan gehad het, se 110de verjaarsdag te vier nie.
Die destydse Oranje Vroue Vereniging is gestig deur President  en mevrou MT Steyn op die plaas Onze Rust net buitekant Bloemfontein.
Die maatskaplike ontwrigting, ekonomiese verarming en droogte in die jare na die beëindiging van die Anglo-boereoorlog, het die nood en lyding van veral vrouens en kinders ondraaglik gemaak en is die stigting van die OVV, allerweë verwelkom. In daardie stadium was dit die eerste georganiseerde vereniging vir maatskaplike dienste in die Vrystaat.
Uit dié nederige begin in 1908, het ‘n dinamiese organisasie gegroei wat na 110 jaar steeds relevant is en hoop gee in die lewe van duisende mense wat in nood verkeer.
Die naam Oranje Vroue Vereniging, is op 23 Maart 2006 verander na Vrystaat Versorging in Aksie.
Hierdie organisasie het oor ‘n breë front invloed uitgeoefen vir die behoud van kulturele en morele waardes sowel as die opbou en ontwikkeling van individue, gesinne en gemeenskappe.
Daarby is ‘n leidende rol gespeel in die totstandkoming van talle dienste wat vandag as vanselfsprekend aanvaar word.
Mense wat navrae het oor die Kultuurfees op Erfenisdag, is welkom om  (056) 811 2971 of Sanette by 079 324 0603, te skakel vir die huur van ‘n stalletjie, of om deel te wees van die potjiekos kompetisie en dag se pret.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button