CommunityPhoto Galleries

Versnit (Winter) in Vredefort

Kaartjies vir VERSNIT Winter is beskikbaar by La vie en Rose, National Road House, Tanya se raamwinkel, en Montagu Droëvrugte.

Die sprankelende sopraan, Marguerite van Wyk, is een van die begaafde kunstenaars wat op 5 Augustus om 11:30 sal optree in NG Kerk in Vredefort vir die Versnit winterkonsert.
Marguerite het geen bekendstelling in die Noord-Vrystaat nodig nie. Sy tree gereeld as solis op saam met die Deo Gloria koor onder leiding van Marli Krüger en Erna Rademan.
Marguerite is ’n Kovsie, en behaal haar B.Mus (Ed) en B.Mus (Hon) met sang as hoofvak onder leiding van die legendariese Hanna van Niekerk. Sy tree gereeld op in SUKOVS produksies en die Jeugkonsertfees saam met die SUKOVS-orkes.
Marguerite is al met verskeie pryse vereer, waaronder die Lettere en Wysbegeerte-prys, asook die Vrystaatse Musiekvereniging-prys.


Marguerite het Meestersklasse ontvang by onder meer Werner Nel, Gerda Hartman, Mimi Coertse en Martin Koningsberger.
In 2007 slaag sy haar UNISA Lisensiaat in sang met lof, en is sy gevra om deel te neem aan ’n oorsese beurskompetisie.
In 2011 het sy die voorreg gehad om as solis op te tree saam met die Drakensbergse seunskoor. Sedert 2010 is sy en haar gesin woonagtig in Potchefstroom waar sy les ontvang by prof. Werner Nel en Antoinette Olivier. Sy is ook tans in die finale pylvak van haar Meestersgraad in Sang.
Marguerite en haar man, Roelof, is ‘n baie musikale paartjie met drie seuns.
Marguerite word begelei deur dr. Truida van der Walt. Dr. Truida is senior dosent in Klavierstudie aan die PUK.
Oor die jare het sy onder meer saamgewerk met Adolph Hallis (Suid Afrika), Walter Panhofer by die Hochschule für Musik und Darstellende Kunst in Wenen, Oostenryk, Dalton Bald-win, Erik Werba,
Lamar Crowson (Kaapstad), Carlo Zecchi (Italië), Bryce Morrison (Brittanje) en Frank Heneghan (Ierland)
Dr. Van der Walt se spesiale belangstelling is Kamermusiek sowel as die begeleiding van sangers.
Sy het opnames gemaak saam met Kobie van Rensburg, André Howard, Sally du Randt, Manuel Escorcio, Werner Nel, Rina Hugo, Zanta Hofmeyr, Piet Koornhof, Human Coetzee en Fanie Jooste.
Dr. van der Walt is nasionaal en internasionaal bekend as begeleier, kamermusiek spe- sialis en beoordelaar van nasionale kompetisies.


Die optrede van die Noordwes-kinderkoor is nog ‘n hoogtepunt op die konsertprogram wanneer hulle liedere uit hul sekulêre program, waarvoor hulle by die pas afgelope Wêreldkoorspele ‘n silwer medalje gewen het, sal sing.
Die koor het al sedert 1992 begin om jong sangers op te lei, en musikale vaardighede by hulle te vestig. Vandag is daar verskeie bekende musici wat hulle loopbaan in dié koor begin het.
Kinders tussen die ouderdom van 9 en 15 jaar kom een keer ’n week bymekaar om die repertorium vir die jaar in te oefen. Elke derde jaar gaan toer hulle in die buiteland met ’n diverse program van verskeie koorwerke.
Om ’n lid van die koor te wees verg meer as die normale vasberadenheid en toewyding aangesien sommige kinders meer as 150 km reis om ’n kooroefening by te woon.
Die koor staan onder leiding van Christelle Engelbrecht en Judi Matsi.
Kaartjies vir VERSNIT Winter is beskikbaar by La vie en Rose, National Road House, Tanya se raamwinkel, en Montagu Droëvrugte.
Belangstellendes kan ook vir Erna Rademan skakel by 082 565 1085, om te reël dat kaartjies afgelewer word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button