CommunityPhoto Galleries

Bekende sanger is die stem agter nuwe kykNET sitkom se temalied!

Op 9 April 2018 het daar ’n splinternuwe Afrikaanse sitkom, MENSE MENSE, op kykNET begin wys. Dié produksie spog met ’n pragtige temalied deur die gewilde sanger en liedjieskrywer, Len Muller, en almal praat daaroor!

Op 9 April 2018 het daar ’n splinternuwe Afrikaanse sitkom, MENSE MENSE, op kykNET begin wys. Hierdie Nouvanaand Films-produksie sluit nie net ’n sterbelaaide rolverdeling in nie, maar ook ’n pragtige temalied deur die gewilde sanger en liedjieskrywer, Len Muller, en almal praat daaroor!

 

VREDE is ’n opgewekte kontemporêre snit in Len se kenmerkende Afrikaans-Akoestiese styl en is geskryf in samewerking met Roan van As en Raldo Mattheus. Alhoewel daar ’n baie diep boodskap in die lirieke skuil, het die liedjie ’n ligte aanslag met ’n wysie wat in jou kop vassteek en jou uitnooi om saam te sing. “Vir my gaan dit oor elke mens se strewe na vrede en hoe ek myne kan vind in God, veral wanneer die lewe en omstandighede my anders laat voel,” deel die musikant. “Ek worstel self met angs en depressie en wou graag iets skryf wat vrede verkondig aan diegene wat met dieselfde dinge worstel.”

 

MENSE MENSE gaan oor ’n groep vriende wat hulle lewens deel deur saam te werk, kuier en woon in een gebou. Dit lê die wipplankrit van vriendskap, verhoudings en volwassenheid bloot, maar bowenal die onwrikbare liefde tussen vreemdelinge wat familie geword het. Bekende akteurs soos Sandra Prinsloo, Crystal-Donna Roberts, Bobby van Jaarsveld, Lea Vivier, Solomon Cupido en Reynard Slabbert is almal in die reeks te sien met Pierre van Pletzen agter die kamera en Nico Scheepers as regisseur. “MENSE MENSE word geposisioneer as ’n ‘Nuwe Ou Gunsteling’ en die temalied moes dit weerspieël. Len Muller se VREDE is prettig, tog nostalgies. Dit onderskaag samesyn sowel as deernis – temas wat gereeld in die sitkom te sien is. Boonop is die lied ook ’n heerlike oorwurm”, sê Nouvanaand-vervaardiger, Chanél Muller, oor hoekom hulle op hierdie spesifieke lied besluit het.

 

Die sanger wie se treffer, Smag na Jou, op die klankbaan van die fliek Strikdas gebruik is, is baie opgewonde oor die voorreg om sy musiek weekliks op die kassie te hoor en sê: “Toe hulle my kontak om te hoor of hulle my liedjie kon gebruik, moes ek myself ’n paar keer knyp om seker te maak dat ek nie droom nie. Nog meer toe ons die musiekvideo verfilm waarin Sandra Prinsloo en Bobby van Jaarsveld speel! Nadat ek die snit opgeneem het, het ek altyd gedink dit kan lekker werk vir ’n sitkom of televisiereeks se temalied. Ek het dit toe vir ’n paar vervaardiger aangestuur en ook aan Nouvanaand Films voorgelê. Hulle het baie daarvan gehou, maar my eers ’n jaar later weer hieroor gekontak. Natuurlik het ek ja gesê en die res is geskiedenis.”

 

Len se debuutalbum, Doodgewone Avontuur, wat in 2015 uitgereik is, het hom amptelik aan die musiekbedryf bekendgestel en heelwat treffers en benoemings (Ghoema- en Tempo-benoemings vir Manlike Kunstenaar van die Jaar en Nuweling van die Jaar) opgelewer. Sedertdien het hierdie blondekopsangsensasie ’n prominente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers. Hy is veral bekend vir die gewilde duet, Vir Die Een Wat Geval Het, wat hy saam met Joshua na die Reën vrygestel het, asook die kitstreffer, Ek Glo, waarvan die video binne slegs ’n paar dae deur duisende mense gekyk is op YouTube.

 

MENSE MENSE (VREDE) se musiekvideo is op die dak van MultiChoice City geskiet en kan gereeld op kykNET (kanaal 144) gesien word.  Die enkelsnit, wat geneem is vanaf die sanger se tweede solo-album, Oog van die Storm, sal ook eersdaags oor die radio gehoor word.

 

Len Muller is bekend vir sy diep lirieke en strelende stem en wil graag musiek skep wat lekker is om na te luister, mense sal raak en onthou sal word. Met sy nuutste prestasie oortref hy nie net sy eie verwagtinge nie, maar verewig hy ook sy plek in die Afrikaanse vermaakgeskiedenis.

 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/lenmuller1/?fref=ts

Twitter: @lenniemuller

Webblad: www.lenmuller.co.za

YouTube: www.youtube.com/lenniemuller

SoundCloud: www.soundcloud.com/lenmuller

Instagram: lennie.muller

 

BESPREKINGS

E-pos: bookings@lenmuller.co.za  / len@lenmuller.co.za

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button