CommunityPhoto Galleries

‘n Hart vir ander – só kan jy gee in hierdie omgee-tyd

Daar is net 68 dae oor voor Kersfees. Vreugdetyd, omgee-tyd. ’n Tyd van uitreik na ander. Die vraag is – na wie reik jy uit as daar soveel nood om jou is? Soveel hande wat vra? Vir wie gee jy, en by wie loop jy verby, as daar soveel keer op ’n dag gevra word …

Daar is net 68 dae oor voor Kersfees. Vreugdetyd, omgee-tyd. ’n Tyd van uitreik na ander. Die vraag is – na wie reik jy uit as daar soveel nood om jou is? Soveel hande wat vra?
Vir wie gee jy, en by wie loop jy verby, as daar soveel keer op ’n dag gevra word vir hulp en jou  salaris al kleiner, en die behoeftes al groter word?
Parys Gazette sal oor die volgende paar weke meer vertel van die organisasies in Parys wat reeds ’n  groot bydrae lewer om die nood van ander te verlig. Instansies waar jy ’n  verskil kan maak –  al is jou bydrae klein.
Op hierdie manier kan ook hulle wat op straat om hulp vra, gehelp word, maar op  meer georganiseerde wyse deur hulle wat elke dag met die nood van mense werk, en weet waar die behoefte werklik is en die nood die grootste.
Hulp is nie altyd net ’n geldelike bydrae wat vinnig in ’n hand gestop word nie. Dikwels is begrip nodig van wat werklik die behoefte is om ’n verskil te maak – ook vir hulle wat jy nie sien vra nie.
Wie en wat is Meals on Wheels?
Een van hierdie organisasies is Meals on Wheels wat elke Maandag ’n gebalanseerde, gekookte ete aan tussen 200 en 250 mense  voorsien. Hierbenewens ontvang Meals ons Wheels ’n  skenking van brood en broodrolletjies op ’n  Dinsdag wat ook uitgedeel word. Hierdie brood gaan hoofsaaklik na die organisasie se tak in Tumahole, waar ongeveer 150 volwassenes en kinders daarby baat.Toebroodjies word ook aan die hoërskool voorsien waar daar ook kinders in nood is. Meals on Wheels reik uit na elke persoon in nood – ongeag kleur, ras of kerkgenootskap.
Wanneer daar spesifieke behoeftes is, word ’n beroep op inwoners van Parys gedoen op die organisasie se Facebook blad, in die koerant of by wyse van advertensies. So is daar besighede wat gereeld die organisasie finansieel ondersteun. Die gemeenskap self se harte en beursies is ook baie oop. Daarvoor sê Meals on Wheels baie dankie.
Hoe kan ek help?
* Vleis: Een van die organisasie se grootste behoeftes is tans vleis – die duurste item op ’n bord. Die slaghuis wat vir agt jaar aan die organisasie vleis geskenk het, het toegemaak, Dit het ‘n groot nood laat ontstaan.  * Geldelike bydraes: Mense kan ook ’n  verskil maak deur ’n  geldelike bydrae vir die aankoop van voedsel vir die etes wat voorsien word. Jy kan ’n elektroniese bydrae direk inbetaal in Meals on Wheels se bankrekening:    Meals on Wheels, Absa, rekeningnommer 405 272 6416, Parys. Daar word werklik staat gemaak op geldelike bydraes.* Kollekte blikkies: By verskeie besighede is daar ook kollekte blikkies vir Meals on Wheels waar jy jou kleingeld kan ingooi en hoe jy ook – ongeag jou bydrae, ’n  verskil kan maak.  * Liefdadigheidsmark: ’n Liefdadigheidsmark word deur Meals on Wheels beplan vir die eerste twee weke in Desember. As jy hier ’n  bydrae op watter manier ookal kan maak, skakel  082 332 0969 of 056 811 4412. * Nie-bederfbare voedsel: Nie-bederfbare items kan in kospakkette aan mense in nood uitgegee word. Selfs net een blikkie help om iemand wat minder het as jy, se nood te verlig.  * Gewillige hande wat bereid is om te help: Tyd en die bereidwilligheid om ’n verskil vir ander te maak.
Hoekom Meals on Wheels?
Die rede waarom ons Meals on Wheels hier in Parys begin het, was die groot behoefte wat raakgesien is by mense in die dorp self, veral ook bejaardes.
Staatspensioen is net nie genoeg om mense deur die maand te dra nie.
Hoe sterk is Meals on Wheels se hande?
Daar is tans ongeveer 10 vrywilligers van verskillende kerkgenootskappe wat gereeld op ’n Maandag betrokke is met die kook, opskep en aflewering van die etes aan hulle in nood.
Aan elkeen van hulle oneindige dank vir die werk wat dikwels so ongesiens gedoen word. Sonder hande kan so ń organisasie net nie voortbestaan nie. Baie dankie vir julle tyd en hulp.
Dankie ook vir gebede, want dit is die ruggraat van só ’n organisasie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button