Photo GalleriesSport

6 Tipe ouers langs ons sportvelde

Kompetisie tussen skole op sportgebied is iets wat gewoonlik in goeie gees gedoen word. Elke jaar is daar enkele ouers wat die ondersteuning van hulle kinders na ‘n nuwe vlak toe neem. Daar is (tong in die kies) ses soorte ouers langs die sportvelde in ons omgewing.

‘n Opgewonde moeder.

Kompetisie tussen skole op sportgebied is iets wat gewoonlik in goeie gees gedoen word. Elke jaar is daar enkele ouers wat die ondersteuning van hulle kinders na ‘n nuwe vlak toe neem. Daar is (tong in die kies) ses soorte ouers langs die sportvelde in ons omgewing.

 

  1. Die ouer wat op die span of sy kind skree

 

Hierdie ouer raak so betrokke by die spel dat hulle alewig vir die kinders skree wat om te doen. As die kinders nie luister nie raak die ouer baie ontsteld en haal dit gewoonlik op hulle eie kinders uit. Hierdie ouer was tien teen een ‘n gemiddelde sportpersoon op skool, maar kon net nie die volgende stap neem nie en wil nou hê sy of haar kind moet word wat hulle nooit was nie. Kalmeer meneer/mevrou, jy versuur die ervaring vir almal.

 

Skreeuende pa.

 

  1. Die ouer wat die afrigter en skeidsregter blameer vir alles

 

Dié soort ouer blameer alles wat fout gaan of op die afrigter of die skeidsregter. Hulle is amper dieselfde as die ouer wat glo hulle kinders is die beste in alles. Hulle glo ook dat hulle kinders niks verkeerd kan doen nie. So pleks daarvan dat hulle na die tyd vir die kind sê om self te oordeel hoe hul beter kon speel, vertel hulle vir die kind dat die afrigter nie weet wat hy doen nie of dat die skeidsregter blind moet wees. Wel meneer, is jy bereid om jou tyd af te staan om kinders af te rig of as skeidsregter op te tree? Bly eerder stil.

 

Sommige ouers baklei alewig met afrigters.

 

  1. Die besorgde mamma

 

Daar is pappas wat ook in dié kategorie val, maar dit is meestal mammas. Hierdie ouer is heeltemal te bekommerd dat hulle kind gaan seerkry. Elke liewe veiligheidstoerusting wat gekoop kan word, word aangeskaf. ‘n Seuntjie wat bulletjierugby speel lyk naderhand of hy eerder Amerikaanse voetbal speel met die kopskerm en skouerkussings. Rustig mamma, elke sport het sy beserings, dis nie so erg nie.

 

besorgde-mamma

 

  1. Ouers wat dink hulle kinders is beter in sport as wat hulle werklik is

 

Dit is altyd goed om mens se kinders aan te moedig, maar dit help nie as mens blind is vir die waarheid nie. Hierdie soort ouer is die teenoorgestelde van die ouer wat op kinders skree. Hulle het gewoonlik geen benul hoe die sport werk nie, maar is by elke wedstryd en skree algemene dinge soos, “Pressure!” “Hou die bal!” “Vorentoe!” wat eintlik by enige sport van toepassing is. Na die wedstryd word daar vir die kinders vertel hoe goed hulle gespeel het, maak nie saak wat in die wedstryd gebeur het nie. Kyk bietjie om jou, nie almal hoef goed te wees in sport nie. As jou kind nie goed is nie, en nie regtig verder belangstelling wys nie, kry ‘n ander aktiwiteit vir hom/haar.

 

sleg-in-alles

 

  1. Die ouer wat alles borg

 

Met vandag se ekonomie het skole ook borge nodig om buitemuurse aktiwiteit aan die lewe te hou. Hoewel daar ouers is wat spanne borg bloot omdat dit nodig is, is daar die soort ouer wat borgskappe uitdeel om seker te maak hulle kind kom in die span. Hulle probeer alle sportsoorte totdat hulle kind in die eerstespan van daardie sport is. Mens moet eintlik dankie sê vir dié soort ouers, anders sou die derde jukskeispan nooit ‘n borg gehad het nie.

 

sponsor-alles

 

  1. Ouers wat nie kan stil sit terwyl hulle ‘n wedstryd kyk nie

 

Hierdie ouers volg gewoonlik die wedstryd langs die kantlyn. Hulle hardloop saam met die aksie. Skree is altyd deel van die hardloop. Dit is merkwaardig dat dié ouers nog asem het om te kan praat kan praat na ‘n wedstryd. Hoewel hulle net passievol is oor die wedstryd, is die pawiljoen daar vir ‘n rede, gebruik dit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button