CommunityNews galleriesPhoto Galleries

Te fiets van die Vaaldriehoek tot in Kaapstad om armes te help

Drie fietsryers gaan 1 895 kilometer van Vanderbijlpark na Kaapstad aflê om die lot van 70 arm gesinne in die Leeuhof-nedersetting naby Vereeniging te verander. Volgens Braam Smith, die organiseerder en ook voorsitter van die ATKV-tak Vaalplakkers in Vanderbijlpark, hoop hulle om R1,2 miljoen aan borgskappe en donasies in te samel om ʼn ouetehuis te …

Drie fietsryers gaan 1 895 kilometer van Vanderbijlpark na Kaapstad aflê om die lot van 70 arm gesinne in die Leeuhof-nedersetting naby Vereeniging te verander. Volgens Braam Smith, die organiseerder en ook voorsitter van die ATKV-tak Vaalplakkers in Vanderbijlpark, hoop hulle om R1,2 miljoen aan borgskappe en donasies in te samel om ʼn ouetehuis te begin bou in die gemeenskap.
Die idee vir die fietstoer het verlede jaar ontstaan toe Braam alleen per fiets Kaapstad toe gery het. Toe het hy fondse ingesamel sodat Leeuhof-inwoners wat nog nooit die see gesien het nie, die kans kan kry. Dit was ʼn bitter eensame tog, vertel hy oor die 1 656 km wat hy binne 21 dae alleen afgelê het. “Bennie van der Merwe het agter my aangery met ʼn bakkie, en ek het darem drie rusdae tussenin gehad, maar dit was net ek in die saal. Toevallig was ek in die Swellendam-distrik toe die dorp die warmste dag in 100 jaar beleef het. Dit het my eers die volgende dag gevang, en toe kon ek nie ophou dink aan die vreeslike ongerief en swaarkry wat die mense van Leeuhof elke dag moet trotseer nie. Net daar het ek besluit hierdie jaar gaan ek dit weer doen, maar ek gaan ander fietsryers saamnooi.”
Vanjaar ry Henk Watermeyer (die oud-tweekamp Springbok) en die 72-jarige oom Gerhard de Jager saam met hom. Die ryers het op 14 Februarie in Vereeniging weggespring, en ry vanjaar ʼn ander roete wat omtrent 200 kilometer langer is as Braam se 2015-roete.
Die drie het ook reeds ingeskryf om – nes Braam verlede jaar na sy marathonrit – die Argus-fietswedren op 6 Maart in Kaapstad te ry.
Inwoners van sommige dorpe langs die roete gaan ʼn entjie saam met die ryers ry om hulle te ondersteun, en ATKV-takke langs die pad is ook gevra om betrokke te raak. Die roete strek vanaf Vereeniging via die Vrystaat, Karoo, Tuinroete en Wes-Kaap tot in Kaapstad.
Braam is reeds vier jaar betrokke by die Leeuhof-gemeenskap. “Ek is deel van ʼn groep wat hulself Manne en vroue van die Woord noem. Dis vier jaar gelede gestig en ongeveer sewentig Leeuhof-inwoners is betrokke by die groep. Daarna het ons ATKV-tak Vaalplakkers, wat ook ʼn ATKV-tak vir woonwaliefhebbers is, ook daar betrokke geraak.”
Die nood in Leeuhof is volgens Braam baie groot. “Na die Tweede Wêreldoorlog is oorlogsveterane sonder heenkome daar gevestig in beskikbare asbeshuise. Mettertyd het die munisipaliteit klein munisipale huisies daar gebou. Baie bejaardes daar is afhanklik van ʼn staatspensioen van omtrent R1 300, waaruit hulle ook nog huur moet betaal. Dan bly daar amper niks oor om van te leef nie.”
Die publiek kan help deur Braam en sy mede-ryers te borg. “Mense kan ons per kilometer borg, maar enige ander donasie is ook baie welkom.”
Die fietsryers sal langs die pad oornag in die volgende dorpe en stede: Viljoenskroon, Hennenman, Theunissen, Bloemfontein, Jagersfontein, Orania, Strydenburg, Britstown, Victoria-Wes, Beaufort-Wes,Oudtshoorn, Hartenbos, Stilbaai, Swellendam, Worcester, Rawsonville en Kaapstad.
Die bankbesonderhede vir donasies is as volg: ATKV Vaalplakkers, ABSA, tjekrekeningnommer 4080990182.
Braam kan gekontak word by 083 997 7330, Henk by 083 784 1520 en Gerhard 083 375 0875. Of stuur ʼn e-pos na absmith@telkomsa.net.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button