CommunityEntertainmentPhoto Galleries

Puik klassieke musiek op die spyskaart vir Kerskonsert

Die Kerskonsert wat weer op 28 November in Vredefort se NG kerkgebou deur die Deo Gloriakoor aangebied word, beloof om ’n fees van gewilde klassieke gewyde musiek te wees. Die Deo Gloriakoor onder leiding van Erna Rademan en Marli Kruger, sing soos vorige jare saam met uiters talentvolle gaskunstenaars.

Die Kerskonsert wat weer op 28 November in Vredefort se NG kerkgebou deur die Deo Gloriakoor aangebied word, beloof om ’n fees van gewilde klassieke gewyde musiek te wees. Die Deo Gloriakoor onder leiding van Erna Rademan en Marli Kruger, sing soos vorige jare saam met uiters talentvolle gaskunstenaars.
Bariton Adam Barnard het bekendheid verwerf as een van die vier sangers van Romanz, maar is deesdae ’n solokunstenaar in eie reg. Hy is vroeër vanjaar as Beste Nuwe Kunstenaar by Huisgenoot se Tempo-toekennings bekroon en het al oral in die wêreld opgetree saam met Romanz en ook as solokunstenaar.
Hy het boonop ook al die verhoog gedeel met bekende kunstenaars soos Andrea Bocelli en Katherine Jenkins, en het ook opgetree by die troue van Prins Albert en Charlene Grimaldi in Monaco.
Sopraan Marguerite van Wyk behaal haar B.Mus (Ed) en B.Mus (Hon) graad met sang as hoofvak onder leiding van Hanna van Niekerk by Kovsies. Hoogtepunte gedurende haar studie was verskeie deelnames aan SUKOVS produksies, die Jeugkonsertfees saam met die SUKOVS-orkes, die Lettere en Wysbegeerte prys asook die Vrystaatse Musiekvereniging prys.
Marguerite ontvang meestersklasse by onder meer Werner Nel, Gerda Hartman, Mimi Coertse en Martin Koningsberger.
In 2007 word sy genooi om deel te neem aan die UNISA Oorsese Beurskompetisie. In 2011 het sy die voorreg gehad om as solis op te tree saam met die Drakensbergse Seunskoor. Sedert 2010 is sy en haar gesin woonagtig in Potchefstroom waar sy les ontvang by prof. Werner Nel.
Orrelis Werner Ferreira is ’n uiters talentvolle jong musikant wat die vermoë het om met musiek te toor. Hy het ’n besonderse musikale aanvoeling vir sy werk en met sy unieke verwerking en kreatiewe idees het hy reeds groot naam gemaak in die musiekbedryf. Hierdie voltydse hoenderboer van Hartebeespoort speel die orrel, klavier en trekklavier en was reeds lid van vele produksies – die mees onlangse was “Chriskras” wat op die Woordfees en RSG Kunstefees gehoor is, en wat ook op die KKNK in 2016 sy buiging maak.
Ander hoogtepunte sluit in instrumentale spel van Izelle Claassen (viool), Anthony Duffin (trompet) en Karel Steyn (fluit). Die strykorkes van Laerskool Chris van Niekerk, waaroor onlangs in die Volksblad berig is, tree ook op. Moet dit nie misloop nie!
Kaartjies vir die konsert is verkrygbaar by koorlede, National Roadhouse en La Vie en Rose en kos R80. Slegs enkele kaartjies is nog beskikbaar. Vir navrae, skakel Annemarie by 084 510 8656.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button