CommunityEntertainmentPhoto Galleries

Vanwaar my familie – ontmoet die Pienaars

Die stamvader van die Pienaars, Jacques Pinard, is op 18 Junie 1866 in Nantes, Frankryk, gebore.

Die stamvader van die Pienaars, Jacques Pinard, is op 18 Junie 1866 in Nantes, Frankryk, gebore. Hy bekwaam hom as timmerman en trou op 10 Januarie 1687 in die Franse kerk St. Aechten (die “Prinsehof,”) in Delft (Nederland) met Esther Foucher (Fouché). Albei het daarheen gevlug as gevolg van die vervolging van Protestante in Frankryk na die opheffing van die Edik van Nantes in 1685. Die egpaar vertrek saam met twintig ander Franse vlugtelinge op die skip “Voorschoten” na die Kaap van Goeie Hoop – die eerste skip wat met Franse vlugtelinge na die Kaap vertrek het. As gevolg van ‘n sterk suidoostewind moes die “Voorschooten” op 13 April 1688 in Saldanhabaai anker gooi en is die Jupiter vanaf Tafelbaai gestuur om hulle na die Kaap te bring. Die plaas “Lustig Aan”, geleë aan die Wildepaarderivier (’n sytak van die Bergrivier), naby die Klein Drakensteinberge digby Paarl, is in Augustus 1694 aan Jacques en sy vrou toegeken. Sy van se spelling het spoedig verander van Pinard na Pienaar.
Twee seuns is gebore. Die oudste, Pieter (Pierre) (1690), trou later met Johanna (Jeanne) Terrier. Hulle trek binneland toe: weilisensies is aan hom toegeken tot so ver as “anderkant die Gourits” (1743). Die tweede seun van die stamouers, Jacques (1692), trou met Louisa Cordier. Hulle trek noord-ooswaarts waar weilisensies aan hom toegeken word in die Bokkeveld. In 1697 sterf Esther Foché op die buurplaas “Wildenpaardejacht” van Philippe Foucher. (Lg. plaas was tot onlangs in besit van oudpres. FW de Klerk). In 1698 trou Jacques met die 15-jarige Martha le Febre, by wie hy ses kinders het. Twee van hulle, Jean (Jan) (1708) wat trou met Catharina Botha, en Salomon (1710), wat trou met Sara Oosthuyzen, plant die stamnaam voort. Albei broers en hulle gesinne trek binneland toe in die omgewing van die Gouritsrivier en latere Swellendam. Die stamvader, Jacques, was een van die Hugenote wat die klagskrif teen WA van der Stel onderteken het ten tyde van die Adam Tas rebellie van 1706. Die Pienaars het hul op verskeie terreine in die Suid-Afrikaanse openbare lewe onderskei. Slegs enkeles word genoem. Pienaarsrivier heet na Petrus Gerhardus Jacobus Pienaar (1819), wat later noordwaarts trek en hom in Zoutpansberg vestig. Die woonbuurt Dan Pienaar in Bloemfontein is vernoem na Daniel Hermanus Pienaar (1893), wat hom as generaal tydens die tweede wêreldoorlog onderskei het in gevegte in Noord-Afrika, onder meer by Sidi Rezegh, Gazala en Alamein. Hy verongeluk op 19 Desember 1942 by die Victoriameer toe sy vliegtuig neerstort. Dit word gesê dat genl. Jan Smuts hom gesien het as sy opvolger in die Verenigde Party. Andries Albertus Pienaar (1894) is beter bekend as die skrywer Sangiro. Pierre de Villiers Pienaar (1904) het bekendheid verwerf op die gebied van spraakterapie en fonetiek, en as woordeboeksamesteller.
Sy seun Uys De Villiers Pienaar (1930) was parkehoof van die Krugerwildtuin en later hoofdirekteur van Nasionale Parke. Johannes Jacobus (Jack) Pienaar (1877), boerekryger tydens die Anglo Boere-oorlog, neem deel aan die rebellie van 1914 en word later administrateur van Transvaal. Schalk Willem Pienaar (1916) het hom onderskei in joernalistiek en koerantredakteur van Beeld. Prof. Kristo Johannes Pienaar (1922) was wêreldbekende plantkundige en amateur toneelspeler. Meer onlangs het Jacobus Francois Pienaar (1967) bekendheid verwerf as Springbok rugbykaptein wat die Rugby wêreldbeker in 1995 verower het. Trix Pienaar van Pringlebaai is ‘n bekende aktrise en Antoinette Pienaar van Beaufort-Wes ‘n “kruiekoningin”. Dan is daar prof. Gert Pienaar wat departementshoof was van joernalistiek by die destydse PU vir CHO en sy seun prof. Gerrit Pienaar, tans by die regsfakulteit van die NWU se Puk-kampus en ook prof. Peet Pienaar, wat bekend was vir sy weervoorspellings! (Saamgestel deur Christo Viljoen (hcv@sun.ac.za). Besoek die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za asook https://www.hugenoot.org.za/Viljoen/ vir meer inligting.]

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button