Entertainment

Parys se spogtalent

Parys se spogtalent

Studente van die Stéfan Louw Sangskool het Saterdag die gemeenskap bederf met die mooiste musiek uit bekende musiekblyspele. Die saal van die NG Kerk Parys-Suid was so vol soos wat Covid-19 regulasies toelaat. Van die sangers wat die aand gehoor is, is al drie jaar studente van die sangskool, terwyl ander so onlangs as twee gelede begin les neem het.

Danielle Venter, ‘n oudleerder van Hoërskool Parys, is een van die studente wat al drie jaar by Louw les neem. Haar uitvoering van I feel pretty uit die musiekblyspel West Side Story, het haar suiwer sopraanstem tot sy volle reg laat kom.

Later die aand het sy die gehoor bekoor met Do, Re, Me uit The Sound of Music. Erna Rademan, wat die sangers meesterlik op klavier begelei het, sê: “Danielle het ongelooflik gevorder vandat ek haar in Desember 2020 laas hoor sing het. Stéfan is voorwaar ‘n meester wanneer dit by sangopleiding kom.”

Die negentienjarige Gwenith Rushmer, ook van Parys, het die gemeenskap met haaar unieke stem bederf. Haar vertolking van Grease se Hopelessly devoted to you is waarskynlik beter as Olivia Newton-John se weergawe.

Sy en Werner van Coller, Viljoenskroon se gunstelingbariton, het ook die bekende Summer Lovin uit Grease gesing, en was ‘n absolute gunsteling by die gehoor.

Een van die vele hoogtepunte van die aand was die gaskunstenaar Deirdré Blignaut, wie se moeder in Sally Martin Park woonagtig is. Deirdré is ongetwyfeld een van die land se beste soprane, en werk al vir die afgelope 30 jaar saam met Louw in die musiekbedryf.

Corniël Calitz, ‘n bas-bariton van Potchefstroom, en mede-stigter van Parys se eerste operageselskap, The Little Theatre Company, neem meestersklasse by Louw. Sy uitvoering van Edelweis uit The Sound of Music was verruklik en die gehoor het uit volle bors saamgesing.

Stéfan se vrou, Marisa, het die gehoor verras met haar uitvoerings van Don’t cry for me Argentina uit die musiekblyspel Evita en Memory uit Cats. Haar en Stéfan se duet aan die einde van die vertoning het die gehoor se hartsnare geroer en vele het ‘n traan of twee gepik. Die terugvoer van lede van die gemeenskap na afloop van die konsert was oorweldigend.

Die volgende konsert is die jaarlikse Piekniek en Kersliedere by Kerslig op 17 en 18 Desember by die NG Kerk Parys-Suid. Bywoning is gratis. Pak jou piekniekmandjie en kom sing saam Kersliedere onder die sterre. Alhoewel dit gratis is, word die gemeenskap versoek om steeds plek te bespreek omdat die grootte van byeenkomste beperk word deur Covid-19 regulasies. Om jou plek te bespreek, besoek www.stefanlouw.com.  

 

 

Related Articles

Back to top button