Entertainment

Lees saam: Die uil en die verkleurmannetjie

Lees saam: Die uil en die verkleurmannetjie

Die liefde vir lees is een van die belangrikste en kosbaarste vaardighede wat jy jou kinders kan leer. Daarom het Parys Gazette hande gevat met die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog om voortaan gereeld tweeweekliks ‘n storie te publiseer wat kinders, maar ook ouers sam met ons kleiner kinders kan lees. Jy kan daarom voortaan uitkyk vir hierdie stories op Saterdae en Sondae op Parys Gazette se webtuiste. Hier is vandag se storie:

Die uil en die verkleurmannetjie

Eendag het ’n wyse uil besluit om deur die wêreld te reis. Hy het na baie lande gereis en uiteindelik in ’n deel van Suid-Afrika beland wat Limpopo genoem word. Maar die uil het eensaam gevoel, want hy het geen vriende gehad nie. Hy besluit toe om deur Limpopo te reis om vriende te maak en van hierdie nuwe plek te leer.

 

Op pad ontmoet die uil ’n miskruier. “Hallo, miskruier,” sê hy. “Ek is ’n wyse uil. Ek reis deur die wêreld en leer van verskillende plekke. Ek het hierheen gekom om van Limpopo te leer. Sal jy my vriend wees en vir my van jouself en van Limpopo vertel?”

 

“Ek is ’n miskruier, en ek eet die mis van diere, dis waarom ek ’n miskruier genoem word,” verduidelik die miskruier. “Hierdie misbol wat ek gerol het, sal as ’n nes vir my eiers gebruik word. Later sal dit gebruik word om my kinders te voer. My dae bestaan daaruit om na mis te soek. Ek reis nie baie ver nie, so ek kan jou nie veel van Limpopo vertel nie. Dalk moet jy die vinkie vra om jou te help.”

 

Die uil bedank die miskruier en sê tot siens. Toe vlieg hy rond totdat hy ’n vinkie sien.

 

“Hallo, vinkie. Sal jy my vriend wees en vir my van jouself en van Limpopo vertel?” vra die uil.

 

“Ek is baie kreatief wanneer ek my nes bou. Dit is ingewikkeld en verg baie werk. Ek is die hele jaar lank besig met dieselfde dinge, en daarom is elke seisoen dieselfde vir my. Ek gaan uit en maak baie riete en gras bymekaar om my nes te weef. Ek kan jou nie regtig meer as dit vertel nie. Die ratel sal jou dalk meer van Limpopo kan vertel,” sê die vinkie.

 

Die uil bedank die vinkie en sê tot siens. Toe reis hy verder totdat hy ’n ratel teëkom.

 

“Hallo, ratel. Sal jy my vriend wees en vir my van jouself en van Limpopo vertel?” vra die uil.

 

“Ek is ’n ratel, en ek is baie lief vir heuning, maar ek eet ook ander goed. Ek is dalk ’n klein soogdier, maar ek is vreesloos en sterk. Ek is altyd op die uitkyk vir heuning. Ek eet baie graag byelarwes, en daarom sal jy my altyd vind waar ek heuningbye se neste plunder. As jy langer bly, kan ek jou saamneem as ek weer gaan heuning soek. Daar’s nie veel meer wat ek jou kan vertel nie. As jy meer wil weet, hoekom gaan vra jy nie die slim verkleurmannetjie daar oorkant nie? Hy weet baie meer,” sê die ratel.

 

 

Die uil bedank die ratel en sê tot siens. Toe gaan soek hy na die verkleurmannetjie. Die uil wou net begin hartseer voel omdat hy nie ’n vriend kan vind wat hom kan help nie, toe hy die verkleurmannetjie gewaar.

 

“Hallo, verkleurmannetjie. Ek is ’n wyse uil. Ek reis deur die wêreld en leer van verskillende plekke. Ek het hierheen gekom om van Limpopo te leer. Sal jy my vriend wees en vir my van jouself en van Limpopo vertel?” vra die uil.

 

“Wel, ek is ’n verkleurmannetjie. My vel is spesiaal, want dit kan van kleur verander. Ek kan vlieë met my lang, taai tong vang.

 

“Hier in Limpopo reën dit in die somer, en dan word die plante groen. Ek verander ook van kleur – ek word groen soos die blare! In die herfs word die blare geel en bruin. Dan verander my vel ook van kleur om soos die herfsblare met hul verskillende kleure te lyk,” verduidelik die verkleurmannetjie.

 

Die uil het nog nooit ’n dier ontmoet wie se vel van kleur kan verander nie! Hy luister aandagtig terwyl die verkleurmannetjie verder vertel.

 

“Die winters in Limpopo is droog en die woude lyk grys. Kan jy raai watter kleur ek in die winter word? Ja, dis reg – ek word gryserig om net soos die woud te lyk! In die lente kry die plante blomme in al die verskillende kleure. My vel kan verander om by al daardie kleure te pas,” sê die verkleurmannetjie. “Ek het al die tyd in die wêreld, en ek kan jou vriend wees. Ek reis nie baie ver nie, en daarom sal jy my altyd maklik kan vind.”

 

Die uil was so verlig om ’n vriend te vind wat hom van Limpopo kon leer. Van daardie dag af was die uil en die verkleurmannetjie beste vriende, en die uil het dikwels by die verkleurmannetjie gaan kuier.

Hierdie storie is goedgunstiglik voorsien deur die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog. Om hierdie storie ook in ‘n ander SA taal te lees, of vir ander geletterdheids aktiwiteite, leeswenke en meer stories wat jy saam met jou kinders kan geniet, besoek www.nalibali.org of kyk ook op Facebook of Twitter by @NalibaliSA

Related Articles

Back to top button