Entertainment

Lees saam: Die reënvoël

Lees saam: Die reënvoël

Die liefde vir lees is een van die belangrikste en kosbaarste vaardighede wat jy jou kinders kan leer. Daarom het Parys Gazette hande gevat met die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog om voortaan gereeld tweeweekliks ‘n storie te publiseer wat kinders, maar ook ouers sam met ons kleiner kinders kan lees. Jy kan daarom voortaan uitkyk vir hierdie stories op Saterdae en Sondae op Parys Gazette se webtuiste. Hier is vandag se storie:

Die Reënvoël

Aan die rand van ’n woud staan daar ’n klein dorpie. In die hart van hierdie woud, in die hoogste takke van ’n reusagtige boom, woon ’n baie spesiale voël − die voël wat reën maak. Die mense van die dorpie probeer hul bes om hierdie voël gelukkig te hou. Elke week neem hulle stukkies brood en vrugte, en vars kokosneutmelk en sit dit aan die voet van die boom neer. Dan speel iemand ’n eenvoudige wyse op ’n duimklavier en die voël vlieg af grond toe om te eet en te drink. Wanneer die voël versadig is, lig sy haar donker, blinkblou vlerke en begin ’n pragtige lied sing. Minute later begin dit reën.

 

 

Vir baie jare reën dit gereeld, die gesaaides groei goed en daar is baie kos vir almal. Maar geleidelik begin dinge verander … die dorpsmense begin die reënvoël afskeep. “Dit sal in elk geval reën,” besluit hulle.

 

Maar geleidelik hou die reën op val. Hul gesaaides begin opdroog en hul diere raak maer en swak. Steeds gaan niemand in die woud in om vir die voël wat die reën bring, kos te gee nie – almal is te besig om geld bymekaar te maak om in die buurdorp te gaan kos koop.

 

Op ’n dag gaan Ketti na die woud. Sy stap tot by die hoë boom waar die reënvoël woon. Ketti kyk op na die boom en skielik onthou sy hoe haar ouma haar na die woud gebring het om vir die voël kos te gee. Sy haal ’n stukkie brood uit haar sak en sit dit aan die voet van die boom neer. Toe, omdat sy geen duimklavier het nie, sing sy ’n liedjie.

 

 

 

Die reënvoël swiep af en begin die brood eet. Nadat die voël klaar geëet het, sing sy ’n paar hoë note en lig haar blink vlerke. Toe hoor Ketti die gerammel van donderweer, en teen die tyd dat sy by die huis kom, val die reën in reusedruppels.

 

Ketti vertel vir haar ouers wat gebeur het. “Niemand glo meer in daardie voël nie. Jy mors net brood!” raas haar ma.

 

“As Ouma nog geleef het,” dink Ketti, “sou sy my geglo het!” Maar Ketti se ouma is ’n paar jaar gelede dood, en al wat Ketti van haar ouma het, is haar ou duimklavier.

 

Twee weke gaan verby, en geen reën val nie. “Ek gee nie om wat hulle sô nie!” dink Ketti. “Ons het reën nodig. Ek gaan weer môre vir die voël kos gee!”

 

Vroeg die volgende oggend vat Ketti ’n sny brood en ’n handvol rooi bessies uit die kombuis en kies koers na die middel van die woud. Maar wat sy nie weet nie, is dat haar pa ook wakker is. Hy besef dadelik wat sy dogter gaan doen. “Ek sal daardie ongehoorsame kind ’n les leer!” sê hy vir homself. Hy gryp sy pyl en boog en volg Ketti stilletjies na die woud.

 

Net toe die voël afvlieg om die kos te eet wat Ketti vir haar neergesit het, lig haar pa sy boog op en skiet die dodelike pyl. Die pyl tref die voël se hart. Die voël skree skril. Ketti draai verskrik om en sien hoe haar pa morsdood neerval. Toe sy weer na die voël kyk, sien sy hoe die pyl skadeloos uit die voël se lyf val. Toe vlieg die voël terug na die hoogste take van die boom.

 

Met haar hart in haar keel, hardloop Ketti huis toe. Elke dier en mens wat sy teëkom, lê dood op die grond. By die huis kry sy gou haar ouma se ou duimklavier. “Dit is my enigste hoop!” dink sy. “Die reënvoël is kwaad. Ek moet haar weer gelukkig maak!”

 

Ketti hardloop terug na die groot boom. Met bewende hande begin sy die duimklavier speel. Sy speel en speel, tot haar vingers pyn. Uiteindelik swiep die voël neer, eet van die bessies en sing ’n paar note. Toe, terwyl Ketti verder speel, lig die voël haar vlerke … Ketti hoor ’n geritsel agter haar – haar pa lewe! “Ek is jammer!” sê hy weer en weer vir die groot, blou voël. Toe hou hy sy hand na sy dogter uit en hulle stap terug na die dorpie, waar al die mense en diere weer lewendig is.

 

Daardie aand hou die dorpsmense ’n vergadering. Hulle stem almal saam dat hulle ’n waardevolle les geleer het. En van daardie dag af, gaan een van hulle elke week spesiaal na die woud om vir die voël wat die reën bring, kos te gee.

 

Hierdie storie is goedgunstiglik voorsien deur die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog. Om hierdie storie ook in ‘n ander SA taal te lees, of vir ander geletterdheids aktiwiteite, leeswenke en meer stories wat jy saam met jou kinders kan geniet, besoek www.nalibali.org of kyk ook op Facebook of Twitter by @NalibaliSA

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button