Entertainment

Spogprogram op die spyskaart vir Kerskonsert

Spogprogram op die spyskaart vir Kerskonsert

“Een van ons mooiste programme nóg!” Dit is die opinie van Erna Rademan en Marli Kruger, koorleiers van die Deo Gloria-koor wat eerskomende Saterdag, 23 November om 18:30 vir 19:00 in Vredefort se NG Kerk aangebied word.
Die tweejaarlikse konsert wat allerweë as die hoogtepunt op die klassieke musiekkalender van die Noord-Vrystaat beskou word, bied benewens die koor self, ook ‘n keur van ander talentvolle klassieke kunstenaars.
Die Johannesburg Music Initiative bestaan uit ‘n groep professionele instrumentale musici wat in ‘n wye verskeidenheid van programme optree.
Hulle is baie veelsydig en neem deel aan klassieke konserte, musiekblyspele, musiekfeeste soos Huisgenoot Skouspel, en maak klankbane vir TV-produksies soos National Geographic, rolprente en DVD’s. Hulle geniet oral erkenning vir die wye verskeidenheid van musiekstyle en -projekte wat hul beoefen en aanpak.
Professionele operasanger, Stéfan Louw, tree as gas-solis saam met die koor op. Hy is die afgelope paar jaar reeds ‘n bekende gesig in Parys, maar ook in Suid-Afrika en op internasionale verhoë waar hy bekendheid verwerf het. Met meer as 500 produksies en optredes agter sy naam, is hy ‘n gesogte en gewilde tenoor.
Gas-orrelis professor Theo van Wyk van UP, gaan besondere luister aan die geleentheid verleen met sy manjifieke spel op die drie-manuaal orrel van die NG Kerk Vredefort. Hy het reeds talle orreluitvoerings plaaslik en oorsee gegee, en werkswinkels oor Suid-Afrikaanse musiek en historiese uitvoeringspraktyke in die VSA en Skotland aangebied.
Die sangsensasie, Olga Leonard en Babette Viljoen, wat gehore reeds by ‘n aantal kunsfeeste aan hul voete gehad het, tree ook op.
Die gehoor kan boonop ook uitsien na samesang wat, soos gewoonlik, vir baie mense ‘n uitsonderlike ervaring is.
Die laaste kaartjies vir die konsert is beskikbaar by La Vie & Rose en National Roadhouse in Parys, asook by alle koorlede. Vir meer inligting skakel Erna Rademan by 082 565 1085.

Related Articles

Back to top button