Entertainment

Snorseun bied lagterapie by Aardklop

Die alombekende komediant, Schalk Bezuidenhout, is nie een vir doekies omdraai ni

Die komediant, Schalk Bezuidenhout is te sien in "Snorseun" tydens Aardklop vanjaar.

Die komediant, Schalk Bezuidenhout is te sien in “Snorseun” tydens Aardklop vanjaar.

Die alombekende komediant, Schalk Bezuidenhout, is nie een vir doekies omdraai nie en met sy nuwe stuk Snorseun het hy seker gemaak dat hy Dinsdagaand by die Totiussaal Aardklopgangers met verskeie prontuit stories laat skaterlag het.

Met ‘n glas rooiwyn in die hand, en ‘n wit Britney Spears T-hemp wat die aandag trek het Bezuidenhout met ‘n luide applous die verhoog betree en van die staanspoor af die klem op sy nuwe blonde haarkleur geplaas.

Een van Bezuidenhout se beste eienskappe as komediant is hoe hy glad nie skaam is om met homself te spot nie en sy nuwe haarstyl was die spreekwoordelike ysbreker waarmee hy die mense se lagspiere begin kielie het. Bezuidenhout sê tog spottend dat sy vertonings soos terapie is en as bonus word hy betaal om sy menswees te deel.

Met Snorseun fokus Bezuidenhout op die Afrikaner se identiteit in Suid-Afrika en die wêreld, en gee ook ‘n paar waarnemings oor die Engelse en hulle invloed in die geskiedenis van ons land. Dié komediant is ook op sy beste wanneer hy van sy ervaringe op ‘n Game Drive vertel wat gevul is met skreeusnaakse opmerkings. Dan is daar ook ‘n episode waar daar “legkaarte” in ‘n chalet gebou moet word – dit klink dalk vreemd maar Bezuidenhout het ‘n flair vir komiese metafore en hierdie storie is alreeds die kaartjie werd.

Nog ‘n kenmerk van Bezuidenhout se vertonings is hoe hy sy ervaringe op ‘n humoristiese manier vervleg met verduidelikings en opmerkings wat die gehoor maklik kan visualiseer. Die verhaal van Schalk se ontmoeting met ‘n aanhanger in Kempton Park by haar huis is een van hierdie voorbeelde.

Bezuidenhout se vertoning het omtrent 2 ure geduur, maar dit het definitief nie lank gevoel nie en die gehoor het elke kwinslag en humoristiese opmerking opgeraap.

Snorseun is definitief die kyk werd met lip-lek lekker humor wat jou mondspiere van oor tot oor sal laat rek.

*Snorseun is weer te sien vanmiddag (Donderdag, 4 September) om 14:00 by die Totiussaal. Kaartjies is R120 vir volwassenes en R80 vir studente en is beskikbaar by Ticketpros.co.za.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button