Entertainment

God vergewe baie, maar nie die onreg aan ’n kind

Die produksie kan van 22-26 Augustus in die Atterburyteater in Pretoria gesien word.

God sal ons baie vergewe, maar nie die onreg wat aan ’n kind gedoen word nie.
Met die universele waarheid raak Lefra se verhoogproduksie van Dalene Matthee se verhaal van “Fiela se Kind”, opnuut harte in die Atterbury-teater in Pretoria.
Verwerk deur Suzanne van Wijk, en met regie deur Frans Swart, het die produksie gesoute akteurs op die verhoog met die immergewilde en uiters talentvolle Shaleen Surtie-Richards, Edrien Erasmus, Eloff Snyman, Courtney Aples, Graigan Swartz, Jaime du Toit, Jarrod Haines, Johny Klein, Marissa Claasen, Paul Lückhoff, Phillru van Achterbergh en Rouel Beukes in die rolverdeling. Uitmuntende rollespel wat met die openingsaand met ‘n staande ovasie beloon is.
Die sentrale verhaal-intrige dat waar godsdiens geleef word, mense van verskillende kulture in harmonie kan saamleef, is strelend in ’n hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing, met die oorkoepelende boodskap dat haat en mensgemaakte wette, die oorsaak is van vele onregte en miskenning van mense se menswaardigheid
Treffend is ook die fokus op kindermishandeling wat reeds van die vroegste tye aan die orde van die dag was.
Die teaterstuk werp meer lig op die feit dat daar wel ’n kind in die bos weggeraak het, maar dan ook die vrae oor die geraamte wat gevind is.
Teatergangers sal aangegryp wees deur Matthee se meesterlike samevatting dat egtheid, innerlike mooi, en waardesisteme nie deur velkleur bepaal word nie maar deur jou verhouding met die Here.
Die produksie kan van 22-26 Augustus in die Atterburyteater in Pretoria gesien word.
Daar is afslag vir groepe van tien en meer en ook skoolgroepe. Vir kaartjies skakel Computicket by 0861 915 8000, (011) 815 3000 of stuur epos na admin@lefra.com

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button