Entertainment

Unieke toneelprojek by Aardklop

’n Stukkie teatergeskiedenis word vanjaar by die Aardklop Kunstefees gemaak met die aanbieding van die unieke Deurnis-projek. Hierdie toneelaanbieding is vanjaar een van die vlagskip-produksies by die fees. Die projek bied ’n unieke 1:1 toneelervaring waar net een akteur vir net een gehoorlid speel. Die program bestaan uit 12 kort toneelstukkies wat in vier pakkette… …

’n Stukkie teatergeskiedenis word vanjaar by die Aardklop Kunstefees gemaak met die aanbieding van die unieke Deurnis-projek.
Hierdie toneelaanbieding is vanjaar een van die vlagskip-produksies by die fees. Die projek bied ’n unieke 1:1 toneelervaring waar net een akteur vir net een gehoorlid speel. Die program bestaan uit 12 kort toneelstukkies wat in vier pakkette ingedeel is. Elke stuk word 36 keer opgevoer. Daar is ’n ouderdomsbeperking van 16.
Die projek wat die breinkind is van Johan van der Merwe en Rudi Sadler, twee toneelvervaardigers van Pretoria, kombineer die talente van ’n aantal gesoute toneelpraktisyns met van die beste jong talent in die bedryf. Onder die ervare deelnemers tel die bekende aktrise en regisseur, Shareen Swart asook die bekroonde dramaturge, Braam van der Vyver en Johann Smith.
Swart het die teks vir Bang geskryf en die regie vir Broei hanteer. Van der Vyver het Winkelpop en Student geskryf terwyl drie stukke uit die pen van Smith in die projek opgeneem is. Hy het gesorg vir Hoffie, Vry en Toets. Smith en twee van die jong opkomende dramaturge, Henque Heymans en Jannes Erasmus, is vir hulle Deurnis-tekste vir ATKV Woordveertjies benoem.


Die stukke wat wissel van diep en donker tot lig en speels, benut almal die intieme ruimte wat deur die persoonlike interaksie tussen akteur en gehoorlid geskep word. ’n Wye reeks onderwerpe word in Deurnis gedek. So is daar byvoorbeeld die mymeringe van ’n Olimpiese swemmer voor sy grootste kompetisie (Swem), ’n skoolseun se verbode liefde (Koud), ’n slagoffer van mensehandel (Rou) en ’n meisie wat al dae lank op ’n eier sit en broei (Broei). Smith se Hoffie bied een tot een kabaret. ’n Student van Potchefstroom, Llewelyn Steenkamp is daarin te sien. Deurnis bied ook stukke vir die Engelse feesgangers. Home, wat deur Aneshree Paul geskryf, gespeel en geregisseer word, is ’n Engelse produksie, terwyl Toets/Test om die beurt in Engels en Afrikaans opgevoer word.
Die alsydige egpaar, André en Juanita de Villliers Velts, span saam om Braam van der Vyver se teks, Student, na Aardklop te neem. André Velts is nie net ’n akteur wat TV, film en teater doen nie, maar is ook ’n filmvervaardiger en regisseur. Onder sy talle krediete tel die vervaardiging van die films, Knysna en Koringberg. Hy is ook mede-vervaardiger van Raaiselkind wat gehore by vanjaar se Silwerskermfees weggeblaas het. Sy vrou, Juanita was onder andere te sien in Binnelanders in die rol van Marlien Thiart. Ook sy het in verskeie films en verhoogproduksies gespeel. In Student speel sy die rol van Norah wat by die “universiteit van die lewe” studeer.
Teatergangers kan kies uit vier pakkette wat elk uit drie toneelstukke bestaan. Elke stuk speel sowat 20 minute. Deurnis is van 3-7 Oktober by die Aardklop Kunstefees te sien.

Die volledige program vir hierdie grensverskuiwende werk lyk soos volg:

Pakket 1:
Koud met Ben Pienaar (teks en regie: Henque Heymans);
Broei met Melinda Brink (teks: Corné Joubert en regie: Shareen Swart); en
Swem met Jannes Erasmus (teks: Erasmus en regisseurs: Erasmus en Johan van der Merwe). Datums en tye: 3, 5 en 7 Oktober om 09:00, 10:30 en 17:30 en op 4 en 6 Oktober om 14:00 en 19:30.
Pakket 2:
Rou met Dewald van der Merwe (teks: Henque Heymans en regie: Esther Rossouw);
Hoffie met Llewellyn Steenkamp (teks en regie: Johann Smith); en
Student met Juanita de Villiers Velts (teks: Braam van der Vyver en regie: André Velts).
Datums en tye: 3, 5 en 7 Oktober om 09:00, 10:30 en 17:30 en op 4 en 6 Oktober om 14:00 en 19:30.
Pakket 3:
Home met Aneshree Paul (ook die skrywer en regisseur);
Winkelpop met Tiaan Slabbert (teks: Braam van der Vyver en regie: Johan van der Merwe); en Toets/Test met Roche van Blerk/Renos Spanoudes (teks en regie: Johann Smith).
Datums en tye: 3, 5 en 7 Oktober om 09:00, 10:30 en 17:30 en op 4 en 6 Oktober om 14:00 en 19:30.
Pakket 4:
Vry met Zander de Beer (teks en regie: Johann Smith);
Anders met Èmil Haarhoff (teks: Henque Heymans en regie: Jannes Erasmus); en Bang met Elani Dekker (teks en regie: Shareen Swart).
Datums en tye: 3, 5 en 7 Oktober om 09:00, 10:30 en 17:30 en op 4 en 6 Oktober om 14:00 en 19:30.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button