BlogsEntertainmentOpinions

Uit my dagboek: Nuwe pa: Ons loop Koos Wye Voete

Koos Wye Voete (KWV) is die manier hoe mense loop wat te veel van die laasgenoemde saam met Coke ingeneem het.

Koos Wye Voete (KWV) is die manier hoe mense loop wat te veel van die laasgenoemde saam met Coke ingeneem het.
Aiden loop nou sterk, soms dink ek tog dat sy brein verder as sy bene ontwikkel is. Sy brein sê vir hom hy kan teen die bank opklim, maar sy kort beentjies en armpies wil nie aldag saamwerk nie.
As ek nou eerlik moet wees, lyk hy soos ‘n man wat om 04:00 uit ’n kuierplek stap wanneer hy loop. Dit gaan natuurlik gepaard met die omval elke ses tree, waarna hy bietjie vir homself giggel en dan met ’n groot gesukkel maar weer opstaan.
Ek het al baie sulke gevalle in my lewe gesien, maar gewoonlik is dit saam met pelle na ’n rampartytjie se gekuier. Alhoewel hy lekker KWV loop, is dit sy deursettingsvermoë wat my baie beïndruk. As hy geval het en hy kan nie dadelik weer opstaan nie, kruip hy sommer tot by sy eindbestemming. Al waar ek dit gesien het was die oggend na ’n rampartytjie wanneer die ouens wat die vorige aand KWV geloop het, met hoofpynpille in die hand na die naaste waterkraan kruip.
Ons het onlangs ’n speletjie ontwikkel waar Aiden verby my probeer loop. Dit het aanvanklik begin omdat sy ma besig is in die kombuis, dan mag hy nie daar onder haar voete wees nie. Dan moet pappa soos ’n hekwag in die sitkamer sit en vir Aiden vang as hy kombuis se kant toe dwaal. So het die speletjie begin, aanvanklik het Aiden met sy KWV loop en al bloot probeer verby boender. Natuurlik het dit nie gewerk nie omdat hy amper elke keer geval het voor hy nog naby gekom het. Naderhand het hy my aandag probeer aftrek deur te maak of hy in ’n ander rigting gaan en dan ewe skielik van rigting verander kombuis toe. Toe dit ook nie gewerk het nie, het hy begin speelgoed aandra wat hy dan vir my gee. Sodra ek die speelding vat, draai hy dadelik om en hardloop kombuis toe. Wel hardloop is ’n baie sterk woord vir wat hy poog om te doen. Elke keer as ek hom ‘vang’ dan is dit ’n gelag en giggel. Tog het hy uiteindelik in die kombuis ingekom omdat pappa net naderhand nie meer die krag het om hom te keer nie. Ek het al gesien dat alle kinders die tipe deursettingsvermoë het. Dalk is dit iets wat ons as volwassenes by hulle kan leer, moet nooit moed opgee nie, aanhouer wen.

Soortgelyke Stories

Out of my journal: New Father; The first shots have been fired

Uit my Dagboek: Nuwe Pa: Klein dinge maak my liries

Uit my dagboek: Nuwe pa: In die loopgraaf

Uit my dagboek, Nuwe Pa, Wag vir die waglys

Uit my dagboek: Nuwe pa: ‘Dadadadadada’

Uit my dagboek: Nuwe Pa; Tranedal by Tjokkerplaas

Uit my dagboek: Nuwe Pa; WP vs Sharks vs Liverpool vs Chelsea

Uit my dagboek: Nuwe pa: Perfekte voorbeeld

Uit my dagboek: My ouers was reg

Uit my dagboek: Nuwe pa ’n Siek kind is nie grappies nie

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button