NewsNews

“Hulle wil net voel iemand gee om” – sê NG Welsyn

Kinders soek net aandag en liefde, hulle wil ook net voel iemand gee om vir hulle,” vertel Elna Francke, maatskaplike werker van NG Welsyn. Daar bestaan groot nood by NG Welsyn en ander welsynsorganisasies vir veiligheidsouers.

Kinders soek net aandag en liefde, hulle wil ook net voel iemand gee om vir hulle,” vertel Elna Francke, maatskaplike werker van NG Welsyn.
Daar bestaan groot nood by NG Welsyn en ander welsynsorganisasies vir veiligheidsouers.
Retha Erasmus, ook maatskaplike werker by NG Welsyn, verduidelik dat veiligheidsouers bietjie anders as pleegsorgouers is. Volgens haar is veiligheidsouers nodig wanneer ‘n kind dadelik uit ‘n situasie verwyder moet word. In so noodsituasie moet daar dadelik plek vir kinders gesoek word, dit kan vir ‘n paar aande tot en met drie maande wees. “Dié kinders kom gewoonlik uit baie moeilike omstandighede. Kinders word nie weggeneem net omdat hulle ouers byvoorbeeld arm is nie. As daar nood vir kos is gee die welsyn eerder kos as om kinders weg te neem. Kinders wat weggeneem word is meestal omdat hulle verwaarloos word,” verduidelik Erasmus.
Die voorbeelde wat Erasmus noem laat mens se hare rys. Kinders so jonk soos 11 jaar wat deur hulle ouers gestuur word om dwelms te gaan koop. Babas van ‘n jaar oud wat sonder toesig in die straat gelos word om te speel. Huise waar daar nie krag is nie, kinders wat deur hulle ouers gestuur word om te gaan bedel waarna die ouers die geld neem om drank of dwelms te koop. Die geld wat oorbly word vir die kinders gegee om kos te koop.
“Soms het hulle dalk net geld vir Russiese worsie en skyfies, dan moet dié kos deur vier kinders gedeel word”, sê sy. Dit neem ‘n baie spesiale soort persoon om ‘n veiligheidsouer te wees en daarom is daar ‘n keuringsproses waardeur hulle moet gaan.
Volgens Erasmus word daar eers sielkundige evaluasie gedoen om te probeer vasstel of die veiligheidsouers dit sal kan hanteer. Daarna word polisieklaring aangevra om vas te stel of die aansoekers nie kriminele rekords het nie. Daarna doen maatskaplike werker huisbesoek om seker te maak dat die aansoekers die vermoë het om na die kinders om te sien. As alles goedgekeur word is die aansoeker se naam op die lys van veiligheidsouers waarna hulle wag tot ‘n noodsituasie ontstaan. “Die staat help met ‘n fooitjie van omtrent R750 per maand om die kinders te onderhou,” sê Erasmus. As die kinders met hofbevel by die ouers geplaas is, word hulle gevrywaar om skoolgeld te betaal.
“Dit is ‘n groot besluit om hierdie kinders in te neem, jy moet onvoorwaardelik van jouself gee,” vertel Francke.
“Dit klink altyd of ons mense wil afskrik om as veiligheidsouers op te tree, maar alles wat ons doen is in die kinders se beste belang,” sê Erasmus. Enigiemand wat belangstel om te help kan Retha of Elna by (018) 297 7347 of (018) 297 8317 skakel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button