Ysige koue nou nie ongewoon nie
Sneeu is al selfs by geleentheid op Nuwejaarsdag in KwaZulu Natal gesien
Is dit nou lente of winter? Dit is die vraag waarmee baie Suid-Afrikaners vanoggend wakker geword het met die ysige wind daarbuite wat jou vinnig na ‘n baadjie laat gryp het.
Maar nee – dit is nie so ongewoon om sneeu in die vroeë lente of laat in die winter te sien nie, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens Die Weerdiens sê dit het in Oktober 2011 ook in Johannesburg gesneeu.
Die koue wat sedert Maandag gevoel is, volg na wydverspreide sneeu in die Oos-Kaapse, Vrystaat en KwaZulu Natalse provinsies wat voorverlede naweek groot ontwrigting op paaie veroorsaak het. Meer as 1 700 voertuie was in die diep sneeu by en rondom Van Reenenspas in KwaZulu Natal vasgekeer.


Die afgelope naweek is weer sneeu gesien weens ‘n vinnig bewegende bolugtrog, maar minder ontwrigtend as die naweek vantevore.
Rudzani Malala, die Suid-Afrikaanse Weeerdiens se hoofwetenskaplike in langtermyn-weervoorspellings sê sneeu is nie tot wintermaande beperk nie, en beslis ook nie ongewoon of seldsaam in die laat winter en vroeë lente nie. Hy sê dit is al selfs in die verlede op Nuwejaarsdag in KwaZulu Natal gesien



