Local newsNews

Munisipaliteite se enorme waterskuld bedreig watersekerheid in VS

Die VF Plus het die afgelope week van meet af aan gewaarsku dat die samesmelting nie die waterrade se skuldprobleem gaan oplos nie.

Die enorme skuld van R10 miljard wat vyf Vrystaatse munisipaliteite skuld aan die Vaalsentraal-waterverskaffer, bedreig watersekerheid in die Vrystaat.

Vaalsentraal het tydens ʼn portefeuljekomiteevergadering van die Vrystaatse wetgewer se komitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), aangedui dat die groeiende skuld van sukkelende munisipaliteite sal veroorsaak dat hy oor die kort termyn ernstige kontantvloeiprobleme sal ervaar.

Die enorme skuld volg ná die samesmelting van Bloemwater en Sedibeng-water in 2022, hoofsaaklik weens die feit dat Sedibeng insolvent was.

Die Matjhabeng-munisipaliteit skuld die waterraad tans R6,9 miljard. Met die samesmelting in 2022 was dit R4,8 miljard. Binne twee jaar het die munisipaliteit se skuld met R2,1 miljard toegeneem.

Die Kopanong-munisipaliteit se finansiële krisis dra by tot R768 miljoen se skuld aan die waterraad en inwoners se watervoorsiening word reeds tot 30% beperk.

Die Mangaung-metro, Nala- en Mantsopa-munisipaliteite skuld die waterraad onderskeidelik R921 miljoen, R404 miljoen en R3,7 miljoen.

Waterverskaffing aan hierdie munisipaliteite sal toenemend ernstige uitdagings ervaar.

Die VF Plus het die afgelope week van meet af aan gewaarsku dat die samesmelting nie die waterrade se skuldprobleem gaan oplos nie.

Die party sê hoewel die nuwe minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, in Augustus met belanghebbendes vergader het, is dit duidelik dat daar geen werkbare plan is om die krisis op te los nie. Die party sê verder die realiteit is dat die staat aanhou om homself geld te skuld.

Die VF Plus het gevra dat drasties ingegryp word om veral Matjhabeng, Nala en Kopanong se agterstallige skuld aan te spreek aangesien die munisipaliteite se wanbetaling waterverskaffing aan ander munisipaliteite sal bedreig.

Die party sê hy sal aandring dat die minister aandui wat haar plan is om te verseker dat water beskikbaarheid in hierdie munisipaliteite volhoubaar is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button