Local newsNews

Empathy Walk: Kom ons maak ‘n verskil vir ander

Min van ons weet werklik hoe dit voel om in 'n ander se skoene te loop. Al wat nodig is om deel te neem is 'n omgeehart vir ander.

Empatie is die vermoë om werklik begrip te hê vir iemand ander se situasie en dit wat hulle voel en beleef. Maar empatie kom nie vanself nie. Dit is ‘n vaardigheid wat ons kinders van jongs af kan leer, want wie van ons weet hoe dit werklik voel om in ‘n ander se skoene te staan?

Bring jou kinders, jou familie, jou vriende, selfs jou hond aan ‘n leiband, en neem deel aan Parys Gazette se Empathy Walk wat in samewerking met  parkrun en met die ondersteuning van Parys Multisport aangebied word op Saterdag 9 November om 07:30 vir 08:00 by Egweni River Lodge in Van Collerstraat.

Wat bring jy saam?

Deelname is gratis. Al wat jy moet saambring is ‘n hart vir ander en enige klere of skoene – oud of nuut waarvoor jy nie meer nut het nie, of nie-bederfbare produkte, skoonmaakmiddels of toiletware.

Alles wat ontvang word op die dag word geskenk aan Vrystaat Versorging in Aksie wat voorsien in die nood van sovele in die gemeenskap van Parys, en hul groot droom om ook ‘n veiligheidshuis in te rig vir verwaarloosde en mishandelde kinders. Die hartseer realiteit is dat meer as dertig kinders alreeds vanjaar deur maatskaplike werkers van Vrystaat Versorging in Aksie uit hul ouerhuise verwyder moes word weens mishandeling of verwaarlosing.

Wat gebeur die oggend?

Stap of draf die oggend die 5km parkrun-roete in die besondere natuurskoon langs die rivieroewer as jy wil, of kom loer net in en bring iets saam vir hulle wat minder het, want op hierdie dag wys ons empatie vir ander in wie se skoene jy dalk nog nie geloop het nie.

Wie kan deelneem?

Oud of jonk, fiks of onfiks – hier is geen beperkinge – net ‘n omgeehart is al wat nodig is.

Navrae:

As jy enige vrae het of selfs net ‘n klere, skoene of nie-bederfbare produkte wil gee as jy nie die dag daar kan wees nie, WhatsApp na 060 690 7591

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button