‘Huiskykers’ steel R50 000 se juwele
Loop maar katvoet vir die slenter - baie is al so gevang

In ‘n onlangse voorval in Parys is R50 000 se juwele gesteel toe kwansuise huiskopers hulself aan die juwele gehelp het terwyl die huiseienaar se aandag afgetrek is met een van die verdagtes wat gevra het om die badkamer te gebruik.
Die modus operandi word gereeld in die dorp gebruik wanneer die ‘huiskopers’ sonder vooraf afspraak by huise stop, gewoonlik waar te koop borde is. Hulle is ook gewoonlik meer as een en kom baie netjies en ordentlik voor. Terwyl een dan vra om die badkamer te gebruik, snuffel die ander in jou huis rond en vat wat waardevol is.
Dit is altyd beter om eerder te vra dat jou eiendomsagent voornemende kopers vergesel wanneer hulle na die huis wil kom kyk, en dat jy slegs werk met mense wat vooraf ‘n afspraak gemaak het. Maak ook seker jy laat nie waardevolle items soos selfone, sleutels, beursies, skootrekenaars en juwele rondlê in jou huis nie. Dit is maklik om hierdie items vinnig te neem wanneer die eienaar nie in sig is nie. Belangrikste – moet onder geen omstandighede vreemdes in jou huis toelaat nie – selfs al klink hul storie hoe goed.
Maak ook seker jy waarsku bejaardes en ander weerlose persone in jou buurt teen hierdie swendelaars.



