CommunityNews

Maak jou kind ‘n akademiese wenner

Soos die afsluitingseremonie van vanjaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro gekom en gegaan het, kan ons terugkyk na die prestasies, kameraadskap en viering van sport op ’n wêreldskaal. Edublox wiskunde-lees-en-leerkliniek meen kinders kan hul akademiese en sportprestasie verbeter deur die Olimpiese atlete se voorbeeld te volg.

 

 

Soos die afsluitingseremonie van vanjaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro gekom en gegaan het, kan ons terugkyk na die prestasies, kameraadskap en viering van sport op ’n wêreldskaal. Edublox wiskunde-lees-en-leerkliniek meen kinders kan hul akademiese en sportprestasie verbeter deur die Olimpiese atlete se voorbeeld te volg.

Deelname aan die Olimpiese Spele is dikwels die hoogtepunt van ’n atleet se loopbaan. Geen atleet verower ’n medalje of kwalifiseer selfs net vir deelname aan dié geleentheid sonder dat hulle die meerderheid van hul tyd opgeoffer het om so goed as moontlik in hul item te wees nie. “Dit verg jare se voorbereiding om ’n sterk fisieke fondasie te bou en die nodige vaardighede te ontwikkel om op die hoogste vlak te kan deelneem. Dieselfde geld vir ’n kind se akademiese vordering,” sê Susan Du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox.

“Kinders moet kan lees en konsentreer ten einde op akademiese vlak te kan vorder. Om te kan lees moet kinders die taal verstaan, sowel as die basiese vaardighede van persepsie, geheue en logiese denke bemeester het. Kinders moet atlete se voorbeeld volg en hul leervaardighede met dieselfde ywer en vasberadenheid slyp sodat hulle ‘Olimpiese studente’ kan word,” sê Du Plessis.

Du Plessis sê nog ’n eienskap van ’n ‘Olimpiese student’ is die vermoë om te konsentreer. Dit is ’n vaardigheid wat aangeleer kan word; net soos ’n kind leer om byvoorbeeld fiets te ry. “Konsentrasie en geheue is ewe belangrik en speel ’n deurslaggewende rol in ’n kind se algehele ontwikkeling. Dit beïnvloed nie net ’n kind se akademiese prestasie nie, maar ook sy vertoning op die sportveld,” verduidelik Du Plessis.

Du Plessis gee ’n paar wenke vir hoe ouers hul kinders kan help om reeds van ’n jong ouderdom akademiese wenners te word.

Verbeter leesvaardighede

  • Jou kind se taalvermoë is ‘n belangrike bepaler van sy leesvermoë. Ouers kan regdeur die dag, wanneer hulle inkopies doen, kosmaak, huistake doen of net ’n entjie gaan stap, met hul kinders oor dié aktiwiteite gesels en só hul woordeskat uitbrei.
  • Lees so dikwels moontlik voor vir jou kind. Taal word deur herhaling verbeter. Ouers kan herhaaldelik uit dieselfde boek voorlees voordat hulle met ’n nuwe een begin.
  • Moenie die waarde van kinderrympies onderskat nie; dit stimuleer die brein en verbeter geheue.

Verbeter konsentrasievermoë

  • Laat kinders van ’n jong ouderdom af legkaarte bou wat vir daardie ouderdom ontwikkel is.
  • Soos hulle ouer word, lees vir hulle langer en ingewikkelder stories voor.
  • Laat kinders buite speel. Dit verbeter dikwels hul konsentrasievermoë meer as wanneer hulle binne speel.

“Die bemeestering van basiese lees- en konsentrasievaardighede is belangrik vir enige kind se akademiese groei en ontwikkeling,” sê Du Plessis. “Dit maak nie saak of hulle dit moeilik of maklik vind nie; dit is deurslaggewend dat kinders so hard soos Olimpiese atlete werk sodat hulle groot ‘Olimpiese studente’ kan word.”

 

Related Articles

Back to top button