
Die gekaapte en ontvoerde pastoorspaar van Bethlehem, wat sedert Vrydag vermis was, is ongedeerd in Evaton gevind.
Die egpaar, past. Phillip Mashudu (55) en sy vrou, Elsie (54) van die Revival Christian Church het vermis geraak nadat hulle op 23 Augustus uit Bethlehem vertrek het na ‘n kerkkonferensie in Parys,
‘n Provinsiale taakspan het sedert hul verdwyning onverpoosd na die egpaar gesoek, en is hul wit Mercedes-Benz Sondag sowat 60km van Parys by Sebokeng naby Vereeniging gekry, maar daar was geen teken van die egpaar nie.
‘n Deurbraak is Maandagnag gemaak wat gelei het tot die arretasie van drie verdagtes in Sharpville.
Verdere ondersoek het die span na ‘n huis ‘n Evaton gelei waar die egpaar gekry, en ‘n vierde verdagte gearresteer is. Die polisie het ook beslag gelê op verskeie bankkaarte en ‘n aansienlike bedrag kontant, sowel as ‘n speelgoedgeweer wat in die huis gekry is. Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die egpaar klaarblyklik tussen Heilbron en Sasolburg gekaap en ontvoer is.
Lt-genl Motswenyane het alle eenhede bedank wat gehelp het met die ondersoek insluitend die polisie se provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade, die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad, speurders van die Fezile Dabi distrik, Misdaadintelligensie in die Vrystaat en Gauteng, die Fezile Dabi en Welkomse Taktiese eenhede en speurders van Sasolburg.
Die verdagtes wat tussen 31 en 41 jaar oud is, sal Donderdag voor die Sasolburgse landdroshof verskyn op klagtes van kaping en ontvoering



