Verslag oor ‘spookwerkers’ weer beloof
Vrae oor die sogenaamde ‘spookwerkers’ is in Oktober 2023 gevra tydens ‘n vergadering van die raad se finanskomitee.

Die beloofde verslag oor bewerings van sogenaamde ‘spookwerkers’ binne die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, sal na verwagting vandeesmaand voor Ngwathe se munisipale komitee oor openbare rekeninge (MPAC) dien. Die komitee het magte om munisipale
ongerymdhede te ondersoek.
Die onderneming dat die verslag en relevante dokumente nou uiteindelik na nege maande se wag voor die komitee sal
dien, is deur rdl Toyi (voorsitter van MPAC) gemaak tydens ‘n spesiale sitting van die komitee, sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel wat ook op die komitee dien.
Schoonwinkel sê vrae oor die sogenaamde ‘spookwerkers’ is in Oktober 2023 gevra tydens ‘n vergadering van die raad se finanskomitee. Hy sê raadslede van alle partye het toe erken hulle het vermoedens oor die sogenaamde ‘spookwerkers’, en het die komitee eenparig aangedring op ‘n volledige ondersoek. Hy sê ‘n senior amptenaar het hulle toe verseker die ondersoek is reeds gedoen, en dat ‘n verslag daaroor binnekort gereed sou wees. “Sedertdien hoor ons niks,” sê hy, ten spyte
van herhaalde skriftelike navrae.
Hy sê as die verslag nie voor die komitee dien nie, sal die hulp van die ouditeur-generaal gevra word.



