Local newsParenting News

Dalk moet ouers anders dink oor dissipline

Dissipline beteken nie beheer nie, maar dit beteken om ons kinders deur ons optrede en kommunikasie te lei en te beïnvloed.

Dis maklik om ’n mening oor ouerskap te hê, maar om ’n ouer te wees, is een van die moeilikste dinge om te doen. As ouers word ons konstant gebombardeer met menings oor hoe om ons kinders te dissiplineer en dink ons tipies aan beloning en straf. Ons rol as ouers is om die toon aan te gee, ’n voorbeeld te stel en om ’n omgewing te skep waarbinne ons kinders gewaardeerd en veilig voel. Metodes waarin beloning en straf beklemtoon word, is dalk nie die doeltreffendse manier om dit te vermag nie. So hoe dan nou? Heidi Malan van Parent Educational Training (P.E.T.) en ’n medewerker van Afrikaans.com, gee die volgende riglyne:

Verstaan dissipline as ’n manier om jou invloed uit te oefen
Kinders het ’n natuurlike neiging om grense te toets, lawaaierig te wees, te mors en om te krap. Dit is maklik om hierdie gedrag persoonlik op te neem en uit frustrasie op te tree. Dit lei egter tot magstryd en kan die ouer-kindverhouding skaad. Deur dissipline as invloed eerder as beheer of kontrole te herdefinieer, kan ons ’n gesonder dinamika aanwakker. Invloed behels dat ons ons ervaring en wysheid inspan om ons kinders te lei, eerder as om ons wil op hulle af te dwing.

Stappe vir doeltreffende dissipline
1.     Erken gedrag as kommunikasie: Kinders se gedrag weerspieël dikwels hulle emosies of onbevredigde behoeftes. Deur gedrag hieraan te meet, kan ons die onderliggende boodskappe beter verstaan.
2.     Identifiseer wie se probleem dit is: Stel vas wie die probleem het. Indien die kind die een met die probleem is, is dit ons rol om te luister en te verstaan. As die ouer die een met die probleem is, moet ons ons gevoelens eerlik kommunikeer sonder om die kind te blameer.
3.     Luister met begrip: Om te luister om te begryp, beteken nie dat jy saamstem nie. Dit beteken dat jy die kind se perspektief en gevoelens erken. Hierdie bevestiging, help hulle om veilig te voel en dat jy hulle verstaan, wat noodaaklik is vir emosionele ontwikkeling.

Praktiese toepassing
Verbeel jou jou kind het ’n woedeaanval, want hulle mag nie ’n sekere speelding kry nie. In plaas daarvan om dadelik “nee” te sê of in te gee, neem ’n oomblik om die emosie agter die gedrag te verstaan. Voel hulle gefrustreerd of dat hulle nie raakgesien word nie? Deur hulle gevoelens te erken – “Ek sien jy is ontsteld, want jy wou bitter graag daardie speelding gehad het” – skep jy ’n ruimte waarin hulle voel hulle word gehoor. Hierdie benadering kan spanning ontlont en ’n geleentheid skep om tot ’n vergelyk te kom en ’n oplossing te vind wat vir albei partye aanvaarbaar is.

Samewerkende verhouding
Wanneer ons dissipline benader as ’n manier om invloed uit te oefen, verskuif ons van ’n wen-verloor dinamika na ’n samewerkende verhouding. Dit help kinders om probleemoplossingsvaardighede, emosionele intelligensie, en ’n gevoel van sekuriteit, te ontwikkel. Deur dissipline te herdefinieer, skep ons ’n koesterende omgewing waarbinne ons kinders kan floreer.

Ten slotte, dissipline beteken nie beheer nie, maar dit beteken om ons kinders deur ons optrede en kommunikasie te lei en te beïnvloed.

Deur te luister en te verstaan, kan ons ’n positiewe en ondersteunende verhouding kweek om ons kinders te help om emosioneel gesonde, sterk en veerkragtige individue te word.

Lees die volledige artikel hier: Dink anders oor dissipline: ’n Nuwe benadering tot ouerskap – Afrikaans.com

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button