Brand by Hartshuis kon baie anders uitgedraai het
Een van die houthuise op die perseel is in die brand vernietig.
Dit is ‘n wonderwerk dat die brand nie na die ander houthuise op die Hartshuis-perseel in Vredefort versprei het nie, het ‘n baie dankbare Zuanne van der Merwe Maandagoggend gesê nadat die houthuis van een van die Hartshuis se inwoners, die 64-jarige Fanie Mare, Sondagaand afgebrand het.
Die brand het rondom 22:00 in sy houthuis ontstaan. Fanie kon betyds uit die huis kom en is niemand in die brand beseer of behandeling vir rookinsaming nodig gewees nie.
Zuanne het ook die versekering gegee dat Fanie versorg is en elders by die Hartshuis geakkommodeer kon word.
Die Hartshuis het watertenks op die perseel en tuinslange op strategiese plekke wat deur die jonger inwoners gebruik kon word om te help om die vlamme te kon blus. Daarsonder kon dit baie anders uitgedraai het, het sy gesê.



