In Grewarlaan word skoongemaak en netjies gehou
Inisiatiewe soos hierdie, en die skoonmaak en verfraaiing wat MooiParys vir jare in Parys doen, het baie mense al aangemoedig om self moue op te rol.
‘n Vuil omgewing beïnvloed nie net jou eiendomswaarde nie. Dit beïnvloed jou gemoedstoestand.
Só glo ‘n inwoner van Grewarlaan wat ses jaar gelede begin het om asblikke langs die rivieroewer op te sit. Met die jare het dié staaldromme deurgeroes en is daar Sondag ses nuwe plastiese dromme, en vroeër die week ook twee staaldromme opgesit.
Die plan is om sou daar nog dromme gekry word, dit te plaas van Johannastraat tot by Egweni.
Benewens die dromme sien sy toe dat vullis op die rivieroewer gereeld opgetel en weggery word, en word selfs die oewergras oorkant haar huis gedurende die somermaande gesny.
Die ywer waarmee hier skoongemaak en netjies gehou word, het van haar bure aangespoor om ook te help, en is daar ander inwoners van Gewarlaan wat weer voor hul woongedeeltes help om die rivieroewer netjies te hou.

Soms sien jy hoe mense vullis sommer net by ‘n motorvenster uitgooi, maar wat hier in Grewarlaan gedoen word, word raakgesien, want deesdae begin mense luister en respekteer dat hier nie gemors word nie.
Dankie aan Johan Hurter wat gehelp het om die pale te sweis en aan die dromme vas te sit, en vir die hulp vandeesweek met die plant van die pale.
Inisiatiewe soos hierdie, en die skoonmaak en verfraaiing wat MooiParys vir jare in Parys doen, het baie mense al aangemoedig om self moue op te rol. Die vrugte hiervan kan oral in die dorp gesien word. Kyk maar na die ingange van die dorp en hoe van die parke in die dorp instand gehou word! Alles inisiatiewe van die dorp se omgee-inwoners. ‘n Klein begin maak ‘n groot verskil.



