Local newsNews

Twee in ‘n ry vir toekenning op die wêreldverhoog

Die indrukwekkende toekenning word slegs aan deelnemers gegee wat volpunte van die beoordelaarspaneel kry

Vivienne van der Schyff is vanjaar een van net vyf deelnemers aan die World Monologue Games aan wie die beoordelaars die gesogte ‘Clean Sweep badge’ toegeken het. Die indrukwekkende toekenning word slegs aan deelnemers gegee wat volpunte van die beoordelaarspaneel kry – ‘n prestasie wat selde behaal word, en oor die afgelope vyf jaar net 31 keer toegeken is.

Vivienne se prestasie is selfs meer indrukwekkend omdat sy die enigste deelnemer in die geskiedenis van die World Monologue Games is wat die toekenning twee keer ontvang. Sy het dié eer verlede jaar ook te beurt geval toe sy die eerste Suid-Afrikaner geword het om die toekenning te kry. Dit boonop vir ‘n Afrikaanse monoloog op die wêreldverhoog waarmee sy die Youth kategorie gewen het.

Vivienne sal nou aan die streekfinaal vir deelnemers van Suid-Afrika en Australië deelneem met drie van haar monoloë – twee in Afrikaans en een in Engels.Die monoloog waarvoor sy die toekenning ontvang het handel oor ‘n meisie wie se skaduwee nie wil ophou om haar te volg nie. Haar tweede Afrikaanse monoloog handel oor ‘n meisie in konsultasie met ‘n terapeut. In die Engelse monoloog is sy Susie Salmon van die fliek, The lovely Bones.

Oor haar deelname aan die World Monologue Games sê Vivienne dat dit vir haar ‘n groot eer is om Suid-Afrika te verteenwoordig op die internasionale platform wat deur Pete Malicki in 2020 geskep is in ‘n tyd toe inperking akteurs en kunstenaars die geleentheid vir deelname ontneem het. Sy neem sedert 2020 deel aan die World Monologue Games.
Vanjaar se streekfinaal sal gedurende Oktober aanlyn gevolg kan word, en sal Parysenaars dan vir Vivienne kan stem wanneer die Youth kategorie op 5 Oktober om 20:30 sal plaasvind.

Die wenners van die ses kategorieë ontvang kontantpryse en ‘n podiumplek by die prestige Global Finals wat in Desember gehou word.

Vivienne van der Schyff as die karakter Susie Salmon.

Vivienne is ‘n leerder van die Eunice High School for Girls, en ‘n student van die Linda Theron Drama Studio.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button