Local newsNews

Parys geen onbekende vir SA se mooie Mia

Mia le Roux wat die afgelope naweek as Mej. Suid-Afrika gekroon is, se wortels lê diep in die Vrystaat.

Haar ma, Liesel (nee Meyer) is gebore en het grootgeword op Parys waar sy in 1972 aan die Hoërskool Parys gematrikuleer het.
Mia se oupa, Meester Meyer, was van die vroeë 1940’s af ‘n onderwyser by Parys se laerskool, en van 1961 tot 1978 ook skoolhoof van die laerskool.

Hy het hom beywer vir ‘n eie sportterrein vir die skool. Die sportterein in Eerstelaan, soos Parysenaars dit vandag ken as die GCS Meyer-terrein, is na hom vernoem.

Hy is in 1987 oorlede, en het Mia se ouma, Miems, in 1989 na Pretoria verhuis.

Mia, wat in 1995 in Sasolburg gebore is, was bevoorreg om ouma Miems te kon ken totdat haar ouma in 2002 oorlede is.
Die Le Rouxs het tussen 1995 en 1997 op Sasolburg hul eie koerant, Die Sasolburg Bulletin, bedryf. Hulle het toe na Pretoria verhuis sodat Mia ‘n kogleêre oorplanting kon kry, en voorskools die Carel du Toit Sentrum, waar dowe kinders leer praat, kon besoek.

Haar pa, Schalk, is ook ‘n gebore Vrystater en het grootgeword op Heilbon waar hy in 1970 in matriek was.
Die 28-jarige Mia en haar gesin het in 2001 na Oudtshoorn verhuis waar sy in ‘n hoofstroomskool gematrikuleer het. Sy het as bemarkingsbestuurder gewerk voordat sy vir die Mej SA-kompetisie ingeskryf het. Sy studeer deeltyds vir ‘n BA-graad in bemarking aan Unisa.

In haar kroningsboodskap het Mia gesê: “Dit is met ‘n dankbare en nederige hart dat ek die groot verantwoordelikheid as Mej. SA 2024 aanvaar. ‘n Eer wat my met ongelooflike trots laat. Ek is diep geraak deur die vertroue wat Suid-Afrikaners in my plaas,”
“As jongmeisie het ek nooit kon dink dat iemand soos ek Mej. Suid-Afrika sou kon word nie. Dit is uiters kragtig wat dit vir ander dogtertjies kan beteken – dat selfs al het jy iets wat jou anders maak, jy steeds jou drome met vasberadenheid en harde werk kan bereik.”

“Op tweejarige ouderdom is ek deur my gemeenskap geseën met die gawe van ‘n kogleêre inplanting. Familie, vriende en vreemdelinge het fondse vir die operasie ingesamel – ‘n lewensveranderende geleentheid wat my toegelaat het om te hoor. Dit was ‘n lang reis om na klank te luister en deur spraak met die wêreld te verbind – ‘n reis wat my geleer het om nooit moed op te gee nie.”

“Vandag is dit my beurt om jou gemeenskap te wees, om ‘n stem te wees vir diegene wat soos ek, die uitdagings ervaar het om anders te wees en uitgesluit te voel. Ek is hier om ‘n ruimte te skep waar almal op hul unieke, pragtige manier, kan skitter,” het Mia gesê.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button