Local newsNews

Plaasweker sterf, talle beseer in vlammehel

Sterk winde het teen 'n windspoed van meer as 30km vlamme genadeloos aangedryf.

‘n Plaaswerker is dood, en minstens tien mense, onder wie boere en plaaswerkers, is behandel of met brandwonde gehospitaliseer na verwoestende brande wat sedert Donderdag oor duisende hektaar tussen Fochville en Potchefstroom langs die R500 en R54 gewoed het.
Hoewel die presiese omvang van die skade nog nie bereken kon word nie, was dit teen Maandagoggend duidelik dat boere in dié distrik ernstige voertekorte in die gesig staar vir meer as 1 500 beeste en skape.
Skade aan die kragnetwerk is ook deur die brand veroorsaak met kragpale wat gebrand en veroorsaak het dat waterpompe nie kon werk om vuurvegters vol te maak nie.
Boere het naas vee en weiding verliese, en strukturele skade aan geboue en lyndrade, ook voertuigskade.
‘n Bakkie waarin n boer en n plaaswerker was het op die plaas Klokfontein in die Lindequedrift-omgewing aan die brand geraak en die lewe van die plaaswerker ge-eis. Die boer  is met ernstige in die spesialis brandeenheid van ‘n Albertonse hospitaal opgeneem.
Die bakkie wat Donderdag aan die brand geraak het en die lewe ge-eis het van ‘n plaaswerker. Foto: Verskaf
Vier plaaswerkers is in hul huise deur die vlamme oorval en is met brandwonde in ‘n Potchefstroomse hospitaal opgeneem.
Sterk winde het teen ‘n windspoed van meer as 30km vlamme genadeloos aangedryf.
Boere van die Noordwes- en Gauteng provinsies insluitend Roepgroep 6 en die Rooikat-groep, saam met Working on Fire grondspanne van Potchefstroom, het vir ure aaneen teen die vlammehel geveg.
Lede van Working on Fire-span van Parys het ook met Donderdag se brand gehelp, terwyl die Working on Fire helikopter Sondag binne ‘n halfuur daar was om te help.
Voorbrande wat ten die Enselspruit-grondpad gemaak moes word om die brand te stuit. Op die foto kan een van die kragpale ook gesien word wat brand.
Die eerste brand het Donderdagmiddag rondom 12:00 in die omgewing van die Lindequesdrift-kruising langs die R500 ontstaan, vertel Sarel van der Wat, insidentbevelvoerder vir die Potchefstroomse en Vaal Eden Brandverenigings se roepgroep 6. By die 40 bakkies en sowat 100 mense het teen die vlamme baklei wat rondom 19;00 die aand onder beheer gebring is.
Saterdag het ‘n veldbrand tussen Fochville en Potchefstroom ontstaaan nadat Eskom drade weens die sterk wind aanmekaar geraak het, het dr. Kobus Roux, voorsitter van die Potchefstroomse Brandbeskermingsvereniging aan Gazette se susterspublikasie, Potchefstroom Herald, gesê.
Dié brand het egter Sondag weer as gevolg van sterk wind opgevlam en van wes na oos op die R54 en N12 gebrand. Daar kon eers laat die aand onttrek word toe die grootste deel van die brand geblus is, maar het dit plek-plek weer Maandagoggend gebrand, het dr. Roux aan die Herald gesê.
Met Sondag se brand het bykans 300 mense hulp verleen met sowat 150 voertuie.
Van der Wat sê dit het Sondag tussen 7 en 10km wyd gebrand in die omgewing van die Enselspruit silo’s langs die R54 Potchefstroom/Vereeniging-pad. ‘n Boer se seun wat tydens Sondag se brand ernstige brandwonde opgedoen het, word  nog in die spesialis brandeenheid van die Albertonse hospitaal behandel. Nog boere en plaaswerkers het behandeling vir brandwonde ontvang, is verneem.
* In die Barrage-omgewing het dit Sondagmiddag naby River Lodge gebrand. Die brand het vinnig teen die rivier af versprei maar is teen 19:00 Sondag onder beheer gebring danksy voorbereiding met brandbane wat vroeër gedoen is.
* Carletonville Herald berig dat meer as R10 miljoen skade Sondag en Maandagoggend gelei is op die Sirkel A Boerdery op die plaas Weltevrede waar die gesin se bakkies, plaasimplemente, store, weiding en 3 000 bale voer onder meer gebrand het. ‘n Klag van brandstigting is by die Fochville-polisiestasie geopen.
(Lees die volledige berig in hierdie week se Gazette.)

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button