Local newsNews

Twyfelagtige ontwikkeling in Sasolburg moet  stopgesit word, eis AfriForum

Dit sal ’n wesenlike impak op die omgewing en die gemeenskap hê indien hierdie vereistes nie nagekom word nie. Ons het reeds ’n reusagtige krisis met riool wat in die Vaalrivier beland en ons is bekommerd dat daar nie kapasiteit is om die ontwikkeling van 8 000 nuwe huise te akkommodeer nie:

Die burgerregte organisasie AfriForum eis dat die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit onmiddellik ontwikkeling wat tans in ses uitbreidings in Sasolburg gedoen word, moet staak omat dit glo na bewering nie aan verskeie kritieke vereistes vir ontwikkeling, soos voorgeskryf deur die munisipaliteit se eie tribunaal, voldoen nie.

AfriForum voer aan dat ontwikkelaars nie vereistes ten opsigte van onder meer riolering, stormwater en verkeer nakom nie en dat dit uiteindelik veilige en volhoubare ontwikkeling in Sasolburg benadeel.

Dié ontwikkeling wat in uitbreidings 74, 75, 76, 77, 78 en 79 onderneem word, is deel van die Sasolburg-dorpsbeplanningskema wat op 17 Oktober 2019 deur die Metsimaholo-dorpsbeplanningstribunaal goedgekeur is. Die ontwikkeling is egter afgeskop voordat daar aan al die voorwaardes wat die tribunaal daargestel het, voldoen is, sê AfriForum verder.

In ’n skrywe wat AfriForum  aan die Metsimaholo-munisipaliteit gerig het, versoek die organisasie onder meer die  planne vir die ontwikkeling van padinfrastruktuur, rioolwerke en waterpunte soos uiteengesit deur die tribunaal sodat bepaal kan word of die ontwikkeling aan al die nodige vereistes en voorwaardes voldoen.

Daar is nog geen teken van die uitbreiding van rioolwerke of wateraanlegte om ekstra kapasiteit te skep nie, die padnetwerk is nie uitgebou om die ekstra verkeer te hanteer nie, en daar is ook nie stormwaterdreine aangebou nie, wys AfriForum daarop in ‘n verklaring wat die week uitgereik is.

Grondverskuiwing wat besig is om plaas te vind.
Die ontwikkelaar besig met grondverskuiwingswerk.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek, blyk dit asof min tot geen van die vereistes nagekom is. “Ons is diep bekommerd oor die klaarblyklike verontagsaming van die reguleringsvereistes wat noodsaaklik is vir veilige en volhoubare ontwikkeling. Dit is van kritieke belang dat al die voorgeskrewe voorwaardes nagekom word om die belange en welsyn van die gemeenskappe wat geraak word, te beskerm. Daarom eis ons dat die ontwikkeling onmiddellik gestop word totdat daar genoegsame bewyse gelewer word om te bevestig dat daar wel aan alle vereistes voldoen is.”

Die Grondwet van Suid-Afrika sluit munisipale bevoegdhede, bouregulasies en munisipale beplanning in. Daar berus dus ’n verantwoordelikheid op die Metsimaholo-munisipaliteit om te verseker dat alle boubedrywighede voldoen aan behoorlike munisipale beplanning en regulasies. Ondanks hierdie verpligtinge twyfel AfriForum of enige van hierdie voorgeskrewe voorwaardes nagekom is.

“Dit sal ’n wesenlike impak op die omgewing en die gemeenskap hê indien hierdie vereistes nie nagekom word nie. Ons het reeds ’n reusagtige krisis met riool wat in die Vaalrivier beland en ons is bekommerd dat daar nie kapasiteit is om die ontwikkeling van 8 000 nuwe huise te akkommodeer nie. Drinkwater, stormwater- en padinfrastruktuur is die volgende bron van kommer. As die voorgeskrewe vereistes nie nagekom is nie, sal dit ’n omgewingsnagmerrie veroorsaak wat ons eenvoudig nie kan bekostig nie,” voeg Grobbelaar by.

Indien die Metsimaholo-munisipaliteit nie teen Woensdag 14 Augustus 2024 die nodige dokumentasie aan AfriForum verskaf nie, sal die organisasie genoodsaak wees om tot regsaksie oor te gaan en ’n dringende aansoek doen om ’n interdik vir die staking van die ontwikkeling te bekom, word in AfriForum se verklaring genoem.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button