Local newsNews

Vroue van staal wat jou twee keer laat kyk

Stap jy deur dié galery sien jy hoe afval skroot en staal, meesterstukke word in die hande van dié kunstenaar.

Parys het oor jare bekend geword vir vele interessanthede. Van die dorp se geskiedkundige hangbrug, tot die staal replika van die Franse Eiffeltoring in die kleine, en die staalperd van kunstenaar Joggie Kotzé voor sy galery met die naam, Man van Staal, langs die dorp se hoofstraat.

Stap jy in by dié galery sien jy ook die vroue van staal met hier en daar ‘n titsel rooi wat die koppe laat draai. Dit is die vrouefigure en gesigte wat deesdae gewild is onder kunsliefhebbers wat hier kom draai. Die een stel hy voor as Lisa. die ander is Anna en ‘n ent van haar is Zinia – unieke kunswerke wat jou twee keer sal laat kyk.

Kunstenaar Joggie Kotze by sy vroue van staal wat jou twee keer sal laat kyk.

 

En dan is daar die besondere skaakstelle. ‘n Skaakstel was ook die eerste kunswerk wat Joggie gemaak het toe hy as kunstenaar sy droom begin uitleef het

Eintlik is Joggie ‘n predikant daar van Thabazimbi se wêreld. Sy droom om sy eie kunsgalery in Parys oop te maak is verlede jaar bewaarheid en eersdaags maak hy nog ‘n galery in Potchefstroom oop.

Hy is ‘n man wat hou van uitdagings en vandaar die groot kunswerk van ‘n perd voor die galery wat krag, vryheid en dapperheid simboliseer. Joggie se kunsloopbaan het in 2022 begin toe hy ‘n groot bulkop gemaak het, en die reaksie daarop oorweldigend was.Vele ander kunswerke het gevolg wat in verskeie galerye uitgestal word, en selfs al oorsee verkoop is.

Joggie is ook bekend vir die trekkers, motors en motorfietse wat hy uit ou naaldwerkmasjiene maak.

Sy kunswerke van afval skroot en staal reflekteer ook sy bediening as predikant waar hy dikwels werk met mense wat ‘tweede kanse’ kry. In sy eie lewe, sê hy het hy al verskeie kanse gekry, en stap jy deur dié galery sien jy hoe afval skroot en staal meesterstukke word in die hande van dié kunstenaar.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button