Local newsNews

Monumentale musiekfees inspireer duisende

Van Vollenhoven sê hulle hoop om die fees 'n jaarlikse instelling te maak. 

Twee vertonings, 10 kore, twee mansensembles en ’n jeugsimfonieorkes. Dit was die musiekbelewenis wat die naweek by die Voortrekkermonument gehoor is toe duisende musiekliefhebbers die Monumentale Koorfees bygewoon het.

Die Monumentale Koorfees is vanjaar vir die tweede keer aangebied in samewerking met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge en SingFonix, ’n mansensemble uit Pretoria.

Riekie van Aswegen, ’n ware legende in die musiekwêreld en dirigent van SingFonix sê sy het ’n netwerk van kore met wie sy graag hande vat wanneer sy sulke projekte aanpak. “Hier in Pretoria het ons ’n ongelooflike gemeenskap van koorvriende en dit is altyd lekker om almal bymekaar te kry vir ’n aand van mooi musiek,” sê Van Aswegen.

Dit is vanjaar ook die eerste keer dat die FAK-Jeugsimfonieorkes saam met die kore optree en Van Aswegen sê sy staan verstom voor die talent van die jong musici.“Dit maak my baie opgewonde om die jeugsimfonieorkes vanjaar deel te kon maak van die fees.

“Die fees bied nie net vir hulle die geleentheid om van Pretoria se beste kore te begelei nie, maar hulle wys ook hoe passievol en talentvol  jong musikante is en dit is werklik inspirerend,” sê Van Aswegen. “Mens onderskat dalk die kinders, ons jong musikante, maar hier staan hulle in die reuse monument soos gesoute professionele sangers en bewys hoe talentvol ons land se jeug is. Die monument leen haarself nie net toe tot so ’n fees oor die akoestiek en die atmosfees wat dit skep nie, maar sonder dat hulle dit noodwendig besef, lewer hierdie jongmense ook met hul deelname ’n klein bydrae tot die ontwikkeling en uitbou van ons kultuur.”

Van Aswegen sê dit is vir haar ’n riem onder die hart om te weet dat hier jongmense sing wat dalk nog nooit by die Voortrekkermonument gekuier het nie en met hierdie koorfees inspireer kan word deur die ongelooflike verhale wat hier vertel word.

Prof. Anton van Vollenhoven, direksielid van die Voortrekkermonument, is ook deel van SingFonix  eggo Van Aswegen se sentiment dat hierdie koorfees die vermoë het om duisende mense te inspireer en hoop te gee.

Van Vollenhoven sê hulle hoop om die fees ‘n jaarlikse instelling te maak.
“Dit is altyd lekker vir kore om die geleentheid te kry om voor groot gehore op te tree, soos ons hier in die monument kan kry en dan is dit natuurlik ook wonderlik om in ’n gebou soos hierdie te kan sing, met die akoestiek wat ’n katedraaleffek skep.

“Ek dink enige sanger, veral ons jong sangers kan nie anders as om geïnspireer hier weg te stap nie.”

“Dit is nie net die organiseerders wat uitsien na die volgende Monumentale Koorfees(te) nie, maar die leerlinge, onderwysers en koorafrigters wat vanjaar deelgeneem het, is dit eens dat hulle nie kan wag om volgende jaar weer hiér te kom sing nie.

Carla Stevens, die Juniorkoor se organiseerder van Laerskool Hennopspark, sê hierdie fees is ’n wonderlike geleentheid vir hul kinders om hul talente hier te kom uitleef.

Leonie Nagel uit Centurion het vanjaar ook die fees saam met haar gesin bygewoon en sê dit is ’n ervaring wat niemand moet misloop nie.
“Mens kry nie dikwels kans om as ’n gesin hierdie tipe geleenthede by te woon nie, maar toe ek die eerste keer hoor hiervan het ek dadelik besef ek wil dit nie misloop nie.”

Lieandri Ackermann, die FAK se koördineerder van skool- en musiekprojekte, sê sy is werklik dankbaar vir die opkoms van vanjaar se fees.

“Hierdie fees bied nie net vir ons jongmense die geleentheid om saam met wêreldklaskore en -musikante te kan optree nie, maar skep ook ’n platform waar elkeen hul kultuur en hul taal kan kom uitleef en dit is werklik inspirerend,” voeg Ackerman by

Die kore wat vanjaar deelgeneem het, is SingFonix Mansensemble, die Pretoria Mannekoor, Laerskool Constantiapark se Voorskoolse Koor, Juniorkoor en Seniorkoor, Laerskool Hennopspark se Juniorkoor, Laerskool Menlopark Seniorkoor, Hoërskool Montana se koor, Afrikaanse Hoër Meisieskool, Laerskool Anton van Wouw se Juniorkoor en die Magaliesberg
Kinderkoor.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button