Local newsNewsNews

Geen keer aan oom Willie nie

Oom Willie het al die jare nog net hard gewerk en wou nooit rus nie.

Willie Hoffmann (82) is al vir 50 jaar ‘n diaken by NG Kerk Parys-Wes en daar was Sondag 28 Julie 2024 vir hom ‘n erediens gehou waarby hy ‘n sertifikaat vir 50 jaar van diensbaarheid ontvang het.

Oom Willie sê dit was ‘n baie spesiale dag vir hom. “Dit was werklik die moosite dag van my lewe. ‘n lieflike mylpaal om te bereik.”

Maar oom Willie het al baie mylpale bereik. Hy het vir oor die 60 jaar fiets gery en altesaam 102 medaljes daarvoor verwerf. Hy het ook vir om en by 50 jaar lank gedraf en 105 medaljes daarvoor ontvang.

Lidmate van sy wyk sê hulle sal hom altyd onthou as die diaken wat met sy fiets by hulle aangeklop het.

Gebore in Brakpan, het oom Willie daar grootgeword en laerskool en hoërskool in Brakpan klaargemaak. Hy het in 1968 na Parys verhuis en het vir 20 jaar by National Bolts as ketelmaker gewerk. Daarna het hy vir ‘n verdere 16 jaar by Stay Cold gewerk.

“Ek het in 1974 die huis oorkant die kerk gekoop en dit is ook in 1974 wat ek as diaken begin diens lewer het.”

Oom Willie vertel hy net eenvoudig nooit gerus nie. “Ek het in die 20 jaar wat ek by National Bolts gewerk het, net drie dae afgevat omdat ek siek was met griep.”

Hy was vir 40 jaar met sy vrou getroud, maar sy is 19 jaar terug oorlede. Hy het ook twee kinders, waarvan sy seun ook oorlede is. “My dogter en kleinkinders bly in Bloemfontein. Hulle wil hê ek moet daar by hulle gaan bly. Hulle sê dit is nou tyd, maar ek besluit nog.”

Oom Willie sê sy gunsteling ding van Parys was nog altyd die skoon, vars lug. “Ek onthou toe ek hierheen getrek het, was dit alles nog grond strate. Die teerpaaie het eers heelwat later gekom. Ek is dankbaar vir alles wat ek kon bereik. Al die harde werk. Dit is alles net krag en genade van die Here af.”

Oom Willie ontvang sy sertifikaat.
Oom Willie se medaljes.
Oom Willie en sy sertifikaat.

Related Articles

Back to top button