Parys Info and Tourism speel ‘n belangrike rol in die gemeenskap
Maak gerus 'n draai by Parys Info & Tourism waar die vriendelike personeel elke besoeker aan die dorp welkom laat voel.
Weg is die ou dae wat mens die sentrale moes bel om inligting te kry. In vandag se dae is dit so
maklik soos die druk van ‘n knoppie. Hoewel slimfone die wêreld oorgevat het, is ‘n inligtingsentrum
steeds baie belangrik.
Parys Info & Tourism lewer ‘n breë spektrum dienste aan die gemeenskap. Hulle is ook ‘n nie-winsgewende maatskappy.
Doreen Keyser van Parys Info & Tourism, sê dit is ‘n alomvattende sentrum wat help met navrae wat per telefoon, e-pos of WhatsApp gekry word, asook vir mense wat instap by die kantoor in Waterstraat.
“Ons kry baie navrae oor dienste wat mense benodig – akkommodasie, trou plekke, aktiwiteite,
toere, gebeurtenisse en soveel meer. Ons het ook ons eie webwerf en ander platforms
waarop ons verskeie besighede en dienste gelys het.”
Doreen vertel hulle kry soms ook snaakse oproepe en navrae. “Ek onthou toe ek net hier begin werk
het, was my eerste oproep van iemand wat ‘n diens gesoek het wat bye verwyder. Ons kry ook baie oproepe oor mense wat slange wil laat verwyder, matte wil laat was en blinders wil laat insit.”
Sy sê dit is ‘n belangrike diens om mense te help, veral ouer mense en dié wat nie noodwendig
‘n slimfoon gebruik nie.
Die Parys Info & Tourism kantoor kan geskakel word by 056 811 4000.



